Ná klagtes van misdaad, onwettige besetting en versoekskrifte aan die Stellenbosch-munisipaliteit is die proses begin om die Papegaaiberg-natuurreservaat in ‘n volwaardige gemeenskap- aanwins om te skep.

“Hierdie is slegs die middel van die begin van die proses,” het Nicolette Booyens van Visit Stellenbosh gemaan.

Booyens het verlede Woensdag (18 Junie) ‘n rolspelersessie by die Bergzicht-opleiding-en-ontwikkelingsentrum aangebied. Hier het rolspelers terugvoer ontvang oor Booyens se werk om inligting en kommentaar van Stellenbossers oor die voortbestaan van die reservaat in te win.

Die Papegaaiberg-reservaat is in 2016 as ‘n reservaat verklaar en ‘n ooreenkoms is tussen die Stellenbosch-munisipaliteit en CapeNature onderteken om na die reservaat om te sien.

Sedertdien Maart was sy in gesprek met talle rolspelers, wat deur die openbaredeelnameproses insae gelewer het. “Aanvanklik het ons gedink indien ons van tussen 60 en 80 inwoners hoor, sal ons ‘n goeie idee hê van hoe die gemeenskap voel. Ons was verras om meer as 200 rolspelers te hê wat kommentaar gelewer het.”

Ten spyte van die passievolle insae en uiteenlopende antwoorde wat Booyens van inwoners van Khayamandi, Onder-Papegaaiberg en ander omliggende areas ontvang het, was daar een duidelike kwessie wat uitgelig is – veiligheid.

Stap nooit alleen

Inwoners van Onder-Papegaaiberg het in September 2023 ‘n versoekskrif aan die Stellenbosch-munisipaliteit, die eienaar van die grond waarop die reservaat is, gerig om dié gebied te beveilig en te ontwikkel nadat talle voorvalle van rooftogte, aanvalle en selfs verkragting aangemeld is.

Loyiso Mbando, ‘n inwoner van Khayamandi, sê hy stap reeds jare vir genot in die reservaat, maar neem niemand kwalik wat vir hul veiligheid daar vrees nie. “Oor die jare het ek al die paadjies leer ken en ek het ‘n goeie idee van waar alles binne die reservaat is. Ek maak egter seker ek stap met my honde en nooit alleen nie,” verduidelik hy.

Volgens Booyens blyk dit baie gemeen- skapslede, organisasies en sakelui is bereid om in die reservaat te belê, maar almal is dit eens – indien die terrein nie beveilig word nie, is hulle nie bereid om hulpbronne te bied nie.

Die Stellenbosch Trail Fund het reeds aangedui hy sal onder meer staproetes in stand hou en kennisgewings oprig, maar eers wanneer die reservaat veiliger is.

Met veiligheid eerste op rolspelers se lys, is verskeie voorstelle vir die reservaat se ontwikkeling genoem. Verskeie rolspelers meen die reservaat moet ‘n kulturele en ontspanningsbate wees. Versoeke van sportlui om die Khayamandi-parkrun, fietsry-roetes en staproetes te ontwikkel, is uitgelig.

Khayamandi-inwoners wat deel was van die konsultasieproses, het voorgestel dat ekonomiese ontwikkeling deur middel van toerisme en buitemuurse aktiwiteite moet plaasvind en bewaring van die natuurskoon moet voorkeur geniet. Talle Khayamandi-inwoners gebruik ook die reservaat vir geloofs- geleenthede en boerdery en het gevra dat dié gebruike in ag geneem word.

Nog baie beplanning

Volgens Granthum Williams, ‘n plaaslike toergids van Kylemore, is hy opgewonde om te sien hoe die natuurreservaat ontwikkel word. “Staproetes, e-fietse en buitemuurse aktiwiteit is veral gesog. As veiligheid in die reservaat verbeter word, sal dit baie gewild wees – ek sal self my kliënte bring,” meen hy.

Williams sê in sy tuisdorp was ‘n soortgelyke ontwikkeling met die ontstaan van die Banhoek-bewaringsgebied. Hoewel daar teenkanting was, is die gebied ‘n aanwins.

Hoewel die algemene sentiment oor die ontwikkeling positief is, meen sommige rolspelers die proses om die Papegaaiberg-natuurreservaat in ‘n volhoubare reservaat om te skep, sal nog baie tyd en beplanning verg.

You need to be Logged In to leave a comment.