Motoriste sal vanaf 1 Julie vir parkeering in Franschhoek se Hoofstraat moet betaal. Foto ter illustrasie. Foto: Stellenbosch-munisipaliteit/ Facebook

Toeriste en besoekers aan Franschhoek sal van Dinsdag 1 Julie R10 per uur moet opdok vir parkering in die dorpsgebied nadat die Stellenbosch-munisipaliteit besluit het om ‘n betaalparkeerstelsel in dié gewilde dorp se Hoofstraat te implementeer.

Die R10-fooi is ‘n universele bedrag wat oor die munisipaliteit heen, insluitend Stellenbosch, gebruik sal word.

Volgens Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die munisipali- teit, sal die parkering intern deur die munisipaliteit bestuur word met geen eksterne kontrakteurs wat aangestel is om die geld in te vorder nie. “Altesaam 14 parkeerwagte sal vir hierdie doel in Franschhoek se parkeergebiede aangestel word en sal toepaslike opleiding ontvang om hul pligte doeltreffend te kan uitvoer,” het Grobbelaar gesê.

Hierdie stelsel is reeds in Stellenbosch ingestel en die proses het, volgens Grobbelaar, eers deur ‘n openbaredeelnameproses gegaan voordat dit ingestel is.

Dit sluit in ‘n kennisgewing in die Franschhoek Tatler in Februarie 2023 en plasings op die munsipaliteit se webtuiste sowel as sy sosialemediaplatvorms. Franschhoek-raadslede is ook oor die proses ingelig en hulle was verplig om die inligting met die publiek te deel. Die parkering sal betaalbaar wees van 08:00 tot 17:00 op weeksdae en 08:00 tot 14:00 gedurende naweke.

Besoekers aan die dorp wat dus voor of ná hierdie ure parkeer, sal gratis kan parkeer, het Grobbelaar gesê.

“Ander formele parkeergebiede in systrate bly gratis, maar tydsbeperkings sal geld om billike gebruik en sirkulasie in dié parkeerplekke te verseker.

“Die besluit om mense vir parkering te laat betaal, is op strategiese beplanning gegrond, soos in die munisipaliteit se Geïntegreerde Vervoerplan (CITP) en Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP) vervat is.

“Die hoofdoel van hierdie intervensie is om parkeerbehoeftes in reaksie op toenemende kommersiële en ekonomiese aktiwiteite in die dorpskern beter te bestuur,” volgens Grobbelaar.

“Die bestuur van parkeergebiede help om toegang tot ondernemings te verbeter deur gereelde omset van parkeerplekke moontlik te maak.

“Daar is al in talle dorpe, insluitend Stellenbosch, bevind dat ‘n betaalstelsel verhoed dat ‘n bestuurder ‘n hele dag lank ‘n parkeerplek opneem – iets wat talle ander besoekers en inwoners verhoed om daar te parkeer om ‘n bestemming te besoek.”

Gratis parkering is steeds beskikbaar – agter die stadsaal en op die hoek van Dirkie Uys- en La Rochellestraat. Sedert die aankondiging het verskeie mense na sosiale media gestroom om hul misnoeë uit te spreek.

‘n Aanlyn-petisie, wat op Change.org teen die betaalparkeerstelsel geskep is, het teen Eikestadnuus se druktyd reeds meer as 1 400 name bevat.

Die koerant het na vyf sakeondernemings in Hoofstraat uitgereik om hul kommentaar oor die parkeerstelsel te verkry, maar het geen terugvoer ontvang nie. Dié ondernemings sluit drie restaurante, een galery en ‘n velsorg-winkel in.

You need to be Logged In to leave a comment.