Die projekspan agter die mulitverdiepingparkeerplek wat vir Stellenbosch se dorpsgebied beplan word, sal nou weer ’n ronde van openbare kommentaar van stapel stuur.
Dit volg nadat die plaaslike munisipale raad Vrydag (23 Augustus) die lewensvatbaarheidstudie vir die projek goedgekeur het.
Die hoop is dat dié parkeerplek verligting vir die verkeers- en parkeerproblem in die middedorp sal bring.
Teenkanting teen die ontwikkeling is egter vanuit die staanspoor gelig, met vele wat meen dié multiverdieping gebou naby die Eikestad-winkelsentrum sal net sake vererger.
Luidens die 727-bladsy- lewensvatbaarheidstudie is die munisipaliteit se plan om die parkeerkompleks deur ’n openbare-private-vennootskap te bestuur. Die diensverskaffer sal ’n 25 jaar-kontrak met die munisipaliteit onderteken.
In ’n ope brief aan raadslede vra die Stellenbosch Belangegroep munisipale verteenwoordigers om mooi te besin oor die besluit en liewer dié projek uit te stel. Die groep voer onder meer aan die parkeerkompleks sal die historiese karakter van die middedorp negatief beïnvloed. Hulle voer ook aan die parkeerkompleks sal die gemak van voetgangers belemmer.
Vrae oor wie finansieel voordeel sal trek uit die ontwikkeling is ook deur die groep uitgelig.
Dit is ’n sentiment wat deur Good se Grechard Petersen gedeel word. Hy sê parkering word al hoe duurder en die finansiële gevolge vir werkersklas-inwoners moet nie vergeet word nie.
Petersen lig ook uit dat die projek glo 20-30 werksgeleenthede sal skep, maar wil weet of dié werkers ’n “honger-loon” sal ontvang. “Wanneer ons praat van die erfenis van die dorp, moet ons luister na die gemeenskap, na die kommentaar wat ingedien is,” sê hy.
Die People’s Democratic Movement se raadslid, Wilfred Pietersen, vra op sy beurt dat daar seker gemaak moet word daar sal genoeg parkering vir mense met gestremdhede wees.
Benewens die belangegroep ondersteun Stellenbosch-fietsry, Young Urbanists South Africa en die Active Mobility-forum ’n petisie teen die projek.
Roland Postma van Young Urbanists South Africa het by geleentheid gesê die munisipaliteit moet liewer kyk na alternatiewe om die verkeersprobleme op te los. Postma se voorstelle sluit in om parkering buite die sakekern te vestig, met motoriste wat te voet in die dorp rondbeweeg en trems gebruik wat meer ruimte vir voetgangers kan skep.