Partye wag op hete kole

Die partye betrokke by die Botmaskop- ontwikkeling wag nou op hete kole om te hoor of werk aan die luukse ontwikkeling kan voortgaan.


Die partye betrokke by die Botmaskop- ontwikkeling wag nou op hete kole om te hoor of werk aan die luukse ontwikkeling kan voortgaan.

Regter Melanie Holderness van die hoogeregshof in Kaapstad het uitspraak voorbehou en sal na verwagting in die volgende twee maande besluit of die projek, bo die Helshoogtepas, sal kan voortgaan en of die 2023-omgewingsmagtiging vir die projek hersien moet word.

Die Stellenbosch-belangegroep (SBG) vra die hof om ‘n bevel uit te reik dat die omgewingsmagtiging, wat in November 2023 deur die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning ingevolge ’n aansoek in Februarie 2021 toegestaan is, nie geldig is nie.

Die aanvanklike goedkeuring was vir ’n berg-vakansieoord.

Die oorspronklike ontwikkeling sou ’n klein hotel, swembad en 15 chalets behels en ’n voetspoor van een hektaar op ’n eiendom van 30 ha wees. Die projek is sedertdien aan verskeie ontwikkelaars verkoop en die omvang daarvan is vergroot.

SBG bevraagteken ook die Stellenbosh-munisipaliteit se besluit om ‘n stuk grond met die ontwikkelaars te verruil.

Volgens die munisipaliteit was die 4,69 hektaar-grond-ruiling gelykstaande aan en gewaardeer op R1 950 000 en is in Julie 2024 goedgekeur.

Regter Holderness het op 11 Februarie die betrokke partye se argumente aangehoor en sal moet besluit wat vir die ontwikkeling voorlê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.