Die familie van Gershwin Conradie (28) was in rou gedompel nadat hy verlede maand aan vermoedelik ’n slangbyt gesterf het.

Conradie en sy familie woon op die Welgevallen-plaas. Volgens sy suster Elanie Conradie is die vermoede dat hy op die plaas gepik is (“Slangpik eis glo liefdevolle pa”, Donderdag, 28 November 2024)

Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het by navraag by monde van Sandra Maritz gesê die departement raai mense aan om versigtig te wees vir slange – veral in die warmer maande en wanneer jy buitemuurse aktiwiteite soos stap, draf of fietsry geniet. “Slangbyte vind gewoonlik plaas wanneer ’n slang bang is, bedreig voel en uit selfverdediging reageer.

“Bly op ’n afstand van slange en ander wilde diere af. As jy deur ’n slang gepik word, gaan na jou naaste hospitaal. Ons beveel ook aan dat jy die nommer van die Gifinligtinghulplyn van die Wes-Kaap (PIHWC) op jou foon stoor: 0861 555 777. Dit is ’n 24-uur-diens wat jy kan skakel, wat gesamentlik deur Tygerberg Gifinligtingsentrum en die Rooikruis-kinderhospitaal gedek word,” het dié woordvoerder verduidelik.

“Wat slange en slangbyte betref – ons raai mense aan om versigtig te wees vir slange, veral in die warmer maande en wanneer jy buitemuurse aktiwiteite soos stap, draf of fietsry geniet.”

Elanie sê hul huis se kombuisdeur is Maandagoggend (25 November) omstreeks 03:45 oopgemaak en haar broer het toe op die kombuis de stoepie neergeslaan. “Ek het weer die geluid gehoor en my selfoon se lig gebruik om te kyk wat aangaan. Hy was op die stoep en kon nie praat nie, maar hy het nog gereageer wanneer iemand met hom gepraat het.”

Elanie sê Gershwin se vriendin het vroeër vertel van ’n seerplek op Gershwin rug. Hy het glo Sondagoggend (24 November) vroeg gekla die seerplek brand en sy moet kyk of hy teen iets gestamp het.

Met Gershwin wat op die stoep lê het Elanie haar broer se T-hemp opgelig en die wond gesien. Daar was klein kolletjies op sy rug en die familie het sedertdien besef dit is waarskynlik waar Gershwin deur ’n slang gepik is.

Teen die tyd dat Gershwin by die Stellenbosch- provinsiale hospitaal aangekom het, het hulle egter nog nie tot dié besef gekom nie. Gershwin is by noodgevalle ondersoek en ontslaan.

“By die huis het hy net verswak. Hy het ook stuipe begin kry. Die middag het ons die ambulans geskakel en hulle het hom suurstof gegee en hom aan ’n drup gekoppel. By die hospitaal het hulle ’n bloedtoets gedoen wat gewys het daar is die ‘een of ander gif’ in sy liggaam,” vertel Elanie.

Volgens Maritz is gesondheidsorgwerkers van die plaaslike hospitaal bekend met Gershwin, aangesien hy ’n kroniese pasiënt was wat hy nie in goeie gesondheid was nie. “Ons kan bevestig dat Gershwin op 25 November by die Stellenbosch-hospitaal was met klagtes oor ’n baie seer keel.

“Hy is behandel en kon terugkeer huis toe. Later, dieselfde dag, het hy teruggekeer na die hospitaal, en familielede het sy simptome aan gesondheidsorgwerkers beskryf. Ongelukkig is hy gedurende die nag oorlede. Ons wil graag ons medelye met die familie betuig. Hulle is welkom om die hospitaal te kontak om te praat oor enige kommer wat hulle oor sy toestand en afsterwe het.”

Elanie bevestig dit was eers later dat die familie besef het haar broer is moontlik deur ’n slang gepik.

Gershwin het in die hospitaal weer stuipe gekry.

Dinsdagoggend het die jongman se week oue babatjie begin huil en 15 minute later het die hospitaal die Conradies geskakel om hospitaal toe te kom.

“Ek glo dit is die huil wat die kindjie gegee het omdat Gershwin daardie oomblik gesterf het. Kyk nou net hoe werk die Here . . . Maandagoggend was dit my seuntjie wat gehuil het en Dinsdagoggend was dit Gershwin se seuntjie wat gehuil het,” sê Elanie.

Gershwin het sedert 2019 vir Maties-melk op die plaas gewerk. Hy was een van vyf kinders en Elanie sê sy sal haar ouer broer as ’n ware staatmaker onthou.

“Dit het nie saak gemaak of dit dag of nag was nie – jy kon hom vra om iets vir jou te doen en hy sou. Hy het soms dalk nors gelyk, maar hy was ook ’n lieflike mens. Hy het maklik met mense oor die weg gekom en was liefdevol,” vertel die sussie.

Gershwin is sedertdien te ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.