Wees seker enigiets wat jy aanlyn koop, is die ware Jakob voordat jy enige geld oorbetaal.

Die Stellenbosch-polisie waarsku inwoners teen bedrog en om lig te loop vir swendelaars nadat talle klagtes in Mei aangemeld is.

• Op Maandag 5 Mei om 15:46 het ‘n klaer ‘n advertensie op Facebook gesien oor die verkoop van ‘n Fujifilm-kamera ter waarde van R16 500. Die voornemende koper het kontak gemaak met iemand met die naam Kevin Lindsay. Saam het hulle ooreengekom dat die klaer 70% van die bedrag moet betaal. Die koper het R11 550 in die adverteerder se bankrekening inbetaal. Nadat die klaer die geld inbetaal het, het sy probeer om met Kevin kontak te maak, maar sy foon was af en hy kon nie bereik word nie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die saak word ondersoek.

• Nog ‘n inwoner is klaarblyklik ingeloop toe hy aanlyn op Marconi-banke afgekom het. Op Maandag 12 Mei om 16:13 was die klaer op Facebook Marketplace toe hy op Marconi-banke vir R5 800 afkom. Hy het toe met iemand op Facebook Messenger gekommunikeer oor die banke voordat hulle op WhatsApp begin gesels het. Die klaer het ‘n onmiddellike elektroniese betaling van R11 000 vir albei banke gemaak, wat deur die onbekende individu aanvaar is. Hy het toe die bewys van betaling gestuur, maar die verkoper het herhaaldelik die afhaal van die banke om verskeie redes uitgestel. Toe die klaer bevestig dat hy op pad is om die banke te gaan haal, is hy per WhatsApp ingelig dat dit ‘n bedrogspul was, waarna die “verkoper” spottende stemnotas en prentjie-boodskappe gestuur het. Die verkoper het verder gesê dat hy die klaer R400 sal terugbetaal, maar dit het nooit gebeur nie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die saak word ondersoek.

• ‘n Klaer is blykbaar op die “Hermanus Koop-en-Verkoop”-sosialemediagroep ingeloop nadat hy op Dinsdag 20 Mei omstreeks 19:15 ‘n advertensie vir ‘n gasbraaistaander vir R3 700 gesien het. Die klaer het die verkoper betaal, maar nadat die betaling gedoen is, het hy nooit die gasbraaistaander ontvang nie en hy kon nie die verkoper in die hande kry nie.

• In ‘n afsonderlike geval op Woensdag 21 Mei omstreeks 12:15 het die klaer ‘n advertensie vir ‘n swart Bosch-vyf-plaatstoof met elektriese oond vir R3 900 aanlyn gesien. Sy het kontak gemaak met ene Hester Viljoen via WhatsApp en die twee het op die prys van R3 000 ooreengekom. Die klaer het bankbesonderhede van Hester Viljoen ontvang en ‘n onmiddellike betaling gedoen. Die klaer is meegedeel dat sy die artikel enige tyd kon afhaal. Toe die klaer besluit om Hester te kontak, kon sy haar nie in die hande kry nie. Later het die klaer op die WhatsApp-groep “Hermanus Koop- en-Verkoop” gesien mense kla dat hulle nie Hester se adres kan opspoor nie. Die klaer het toe besef sy is bedrieg. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die saak word ondersoek.

• ’n Saak van bedrog word ondersoek nadat ‘n klaer op Donderdag 22 Mei op Facebook vir ‘n voertuig gesoek het. Hy het ‘n advertensie van ‘n Land Cruizer gesien en die adverteerder gekontak, waarna hulle op WhatsApp begin gesels het. Die klaer het die geld in twee bankrekeninge inbetaal – altesaam R357 000. Hy het egter nooit enige voertuig ontvang nie. Ná ‘n paar dae het die klaer besef hy is ingeloop. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die saak word ondersoek.

• Dit is egter nie net kopers wat ingeloop word nie, maar ook vermeende verkopers, soos blykbaar die geval van ‘n man wat Saterdag 24 Mei ‘n boodskap op Facebook ontvang het oor ‘n skootrekenaar wat hy wou verkoop. Hy het die advertensie op Facebook geplaas en ‘n onbekende persoon het belanggestel om die skootrekenaar te koop. Hulle het gereël dat die koper ‘n betaling moet doen en iemand sou stuur om die skootrekenaar te kom haal. Iemand het die skootrekenaar gaan haal en bewys van betaling aan die verkoper getoon. Toe die klaer egter die bank skakel met die besonderhede van die betalingsverwysing, is hy meegedeel dat die betaling vals was. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die saak word ondersoek.

Die Stellenbosch-polisie doen ‘n beroep op inwoners om versigtig te wees wanneer hulle aanlyn inkopies doen. Koop slegs van vertroude webwerwe. Soek vir “https” en ‘n slot-ikoon in die adresbalk van die webwerf. Vermy transaksies wat te goed lyk om waar te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.