Die Stellenbosch-munisipaliteit het mense die afgelope ruk teen verskeie slenters onder die munisipaliteit se naam gewaarsku.
E-pos-boodskappe wat lyk asof dit van die munisipaliteit aan inwoners gestuur word, is onder die slenters waarteen gewaarsku word. In die e-posse word onder meer persoonlike inligting of betalings geëis, alles kompleet met die munisipaliteit se kenteken en kontakbesonderhede daarop.
“Ons wil graag beklemtoon dat die munisipaliteit nooit sensitiewe inligting of betalingsbesonderhede per e-pos sal vra nie. Indien jy ’n verdagte e-pos ontvang, moet asseblief nie reageer of op enige skakels klik nie. Vee die e-pos onmiddellik uit en verwyder dit ook uit jou deleted items,” maan die munisipaliteit.
Benewens kuber-klugte het die munisipaliteit ook onlangs gewaarsku dat individue hulle as munisipale werkers voordoen om toegang tot inwoners se wonings te kry. Dit is veral bejaardes wat met dié slenter geteiken word. “Hoewel dit nie ’n nuwe verskynsel is nie en nie spesifiek op sekere gebiede gemik is of uniek aan ons omgewing is nie, bly ons daarop aandring dat alle belanghebbendes en inwoners waaksaam moet bly,” verduidelik Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die munisipaliteit.
Hy voeg by inwoners wat onseker of verdag is oor enigiemand wat sê hulle is van die munisipaliteit, kan 021 808 8215 skakel of ’n boodskap op die munisipale Whatsapp-lyn by 076 951 0768 stuur om te verseker dit is wel die geval.
“Ons het berigte ontvang van bedrieërs wat huise besoek en veral ouer en meer weerlose inwoners teiken en voorgee om munisipale amptenare te wees om toegang tot eiendomme te verkry. Inwoners kan ook kontak maak op https://stellenbosch.gov.za/contact-us/
“Bly veilig en waaksaam!”