’n Pastoor van Idasvallei in Stellenbosch wil met sy jongste boek ’n stem gee aan diegene wat nie vir hulleself kan praat wanneer hulle seer ervaar nie.
Die boek, Here ek het Seergekry, vertel die verhaal van pastoor Ashley Cupido se grootwordjare en sy worsteling met mishandeling as kind.
“ ’n Mens kan sê die boek is ’n kombinasie van geestelike outobiografie en selfhelp, want ek vertel my storie en gee raad aan die leser oor hoe om trauma te hanteer,” vertel Cupido.
Hy het in Cloetesville grootgeword en sê hulle was die derde huisgesin wat destyds ingevolge die Groepsgebiedewet na Cloetesville verskuif is.
Die boek skets Cupido se lewe oor die jare heen en begin van die ouderdom van vier af. Dit vertel van die hartseer wat hy as kind ervaar het.
“Ek vertel van die mishandeling wat ek en my ma en susters oor die jare moes verduur en hoe dit my jare geneem het om dit te verwerk en diegene wat leed aan my gedoen het te kon vryspreek.”
Cupido het in 1990 voltyds in die bediening by die Verenigde Sendingkerk gegaan en sê hy het toe al die boek begin skryf.
“Ek het die boek in die middel 1990’s begin skryf maar kon dit nooit regtig voltooi nie, want as ek by ’n sekere gedeelte van die boek gekom het, was dit moeilik en ek het agtergekom die seer was nog te erg en dat ek dit nie verwerk het nie,” vertel hy.
“Ek het toe in 2021 na ’n afsonderingskursus in die Welkom-omgewing, genaamd Reis en Menswees, gegaan en daar tyd alleen deurgebring met God. Daar het ek heling gekry en kon ek dié wat my seergemaak het, vergewe en vryspreek.”
Cupido sê hy het die boek juis geskryf as ’n kompas vir dié wat nog sukkel met hartseer en pyn van die verlede.
“Ek noem hierdie dinge, want ek glo lesers sal hulself hiermee kan vereenselwig en moed en heling vind. Dit was vir my belangrik om my storie te deel sodat ander daardeur baat kan vind en ook die pad van genesing kan loop.”
. Om ’n eksemplaar van Here ek het Seergekry te bekom, kontak Ashley Cupido by ashleycupido1@gmail.com of 082 969 7982. Die boek kos R160.