Drie Paul Roos Gimnasium-atlete het die afgelope naweek Suid-Afrika trots gemaak by die Wêreld Biathlé-kampioenskap asook die Wêreld Triathlé-kampioenskappe in Viveiro, Spanje.
Ruard van Renen, Deacon Bradley en Bernhard Andrag het saam sewe medaljes vir Span Suid-Afrika by die bogenoemde kampioenskappe help wen.
Meer as 500 atlete van 30 lande het aan die kampioenskappe deelgeneem.
By die individuele Biathlé-kampioenskap, waar die seuns 800 m hardloop, 100 m swem en weer 800 m hardloop sonder rus tussen die dissiplines, het Van Renen ’n bronsmedalje verower, met Andrag wat 21ste en Bradley wat 22ste geëindig het.
Tydens die span-kompetisie het Van Renen saam met twee ander Suid-Afrikaners ’n silwermedalje gewen, terwyl Andrag ’n silwermedalje saam met ’n spanmaat tydens die aflos gewen het.
By die Triathlé-kampioenskap, waar die seuns vier keer moet teiken skiet, vier keer 25 m moet swem en vier keer 400 m moet hardloop sonder rus tussen die dissiplines, het Van Renen weereens ’n bronsmedalje in die individuele afdeling gewen, met Andrag vyfde.
In die span-afdeling het Van Renen en Andrag saam met ’n ander spanmaat ’n silwermedalje gewen, terwyl van Renen sy vyfde medalje gewen het toe hy en nog ’n spanmaat silwer tydens die aflos gewen het.