PRG Forum (die praatkunste) het sy Afrikaanse debat- en redenaarspanne vir die ATKV se redenaars- en debatkompetisie ingeskryf en drie van Paul Roos se senior spanne het deurgedring na die nasionale eindronde wat op 19 Augustus by Goudini Spa plaasvind. Sewe redenaars het in die halfeindronde van die ATKV se redenaarskompetisie meegeding. Steffan Thielen (ook in die PRG-debatspan) beklee die eerste plek in die Wes-Kaap in die senior huistaal onvoorbereide kategorie. Waldo van Zyl op sy beurt beklee die tweede plek in die Wes-Kaap in die senior eerste addisionele taal voorbereide kategorie. Albei dié twee leerders het na die nasionale ronde wat in Augustus plaasvind, deurgedring. Alhoewel Stef de Villiers, Christiaan Fouché en Julian Pratt nie die eindronde gehaal het nie, het hulle steeds vyfde (Stef de Villiers), agste (Christiaan Fouché) en tiende (Julian Pratt) plek in hul onderskeie kategorieë in die Wes-Kaap behaal. Die PRG-forum is, van links, Christiaan Fouché (gr. 8), Waldo van Zyl (gr. 11), Stef de Villiers (gr. 9), Steffan Thielen (gr. 11), Altus du Plessis (gr. 11), Julian Pratt (gr. 8) en Ian Lubbe (gr. 10).