Luke van der Merwe saam met die Nigeriese springers Justin Osigwe Jimoh (links) en Fiaku Goodluck Ezechukwuchiri (regs) by die Afrika-o.18-kampioenskap.


Die hoogspringatleet Luke van der Merwe van Paul Roos Gimnasium is nou weer tuis met ’n goue medalje, ’n nuwe persoonlike beste en ’n indrukwekkende plek op die wêreldranglys ná sy prestasie by die Afrika-o.18-kampioenskap wat van 29 April tot 3 Mei in Ndola, Zambië, plaasgevind het.

Dié 16-jarige se merkwaardige prestasie by die kampioenskap het hom saam met Jamaikaanse atlete soos Aaron McKenzie en Chavez Penn as een van die wêreld se voorste hoogspringers in die o.18-afdeling geposisioneer. Hy het op ’n indrukwekkende hoogte van 2.10 m oor die dwarslat geseil en sodoende die Afrika-rekord vir o.18-atlete verbeter.

Luke se suksesvolle reis het by die Suid-Afrikaanse o.18-kampioenskap, wat van 22 tot 25 Maart in Pietermaritzburg se Msunduzi-atletiekstadion gehou is, begin toe hy ’n sprong van 2.05 m behaal het, wat hom derde op die ranglys geplaas het. Hy het voortgegaan om besonders goed te presteer en het die Curro-topskole, die Boland Sentraal-, die Wes-Kaapse en die SA o.18-kampioenskappe gewen asook ’n silwermedalje by die Boland- en SA Skole-kampioenskappe verwerf.

Luke het by die hoogspringbyeenkoms by die Afrika-o.18-kampioenskap besef hy moet sy beste lewer. Op ’n hoogte van 2 m was hy in die vyfde plek op terugtellings. Hy het egter daarin geslaag om die hoogte “skoon te maak” en hom in ’n medaljestryd bevind saam met die hoogaangeskrewe Nigeriese springers Justin Osigwe Jimoh en Fiaku Goodluck Ezechukwuchiri. Met net een sprong oor op ’n hoogte van 2.05 m moes hy ’n suksesvolle sprong maak om met Jimoh gelyk te wees vir die silwermedalje. Om die goue medalje te wen, moes hy sy persoonlike beste van 2.08 m oortref, wat hy gedoen het en sodoende die Afrika-kampioen geword en die vasteland-rekord vir o.18-atlete verbeter het.

LEES: Ansumé mik nóg hoër

Luke se oorwinning by die Afrika-o.18-kampioenskap maak hom die tweede Paul Roos Gimnasium-atleet wat ’n vasteland-titel wen. Hy volg in die voetspore van Breyton Poole, wat goud by die 2019 Afrika-o.20-kampioenskap gewen het. Met nog twee jaar in die o.20-ouderdomsgroep het Luke die geleentheid om hierdie prestasie te ewenaar.

Bennie Schlechter, Luke se afrigter vir die afgelope drie jaar, het Poole ook afgerig.

Die twee oefen by die Coetzenburg-stadion, danksy die sterk verhouding tussen Paul Roos Gimnasium en Maties Atletiek. Die afrigter en atleet is entoesiasties oor die toekoms en die potensiële geleenthede wat die nuwe en verbeterde hoëprestasiesentrum by Paul Roos Gimnasium bied.

You need to be Logged In to leave a comment.