Altesaam 1 300 PRG-leerders het op 3 Maart die eerste Tiger Wheel & Tyre PRK Kaskar Fundracer ervaar.Foto:


Paul Roos Gimnasium (PRG) het verlede week sy 157ste verjaarsdag afgeskop met wat onder die skoolgemeenskap bekendstaan as verjaarsdagweek.

Die feesvieringe is Dinsdag 28 Februarie met ’n tradisionele saalbyeenkoms afgeskop met leerders wat deur die PRG-rektor, André van Staden, sowel as oudleerders van die skool toegespreek is. Van dié oudleerders was PRG se 1973 hoofseun, Skip Krige, wat saam met die Matrieks van 1973 ’n skoolbesoek afgelê het en ook die seremonie bygewoon het. Die voorsitter van die oudskoliere-unie, Nils Flaatten (1987) het ook ’n spreekbeurt geniet.

Die spesiale gasspreker van die geleentheid was skrywer, joernalis en oudleerder, Pieter du Toit (1997). Soos net ’n joernalis kan, het Du Toit vir die leerders ’n blitsprentjie van politieke, ekonomiese en tegnologiese verwikkelinge oor die laaste 30 jaar in Suid-Afrika én die wêreld geskets. Sy toespraak het geëindig op die onopgesmukte stand van sake vandag, en hoe Paul Roosers (met goeie bedoeling) hul opvoeding en sterkpunte kan inspan om positiewe veranderinge en oplossings vir Suid-Afrika én die wyer wêreld teweeg te bring.

Op 1 Maart (Paul Roos se 157ste verjaarsdag) het die skool die PRG-leerderbal aangebied. Dit is ’n sosiale geleentheid waar 41 skole van die omgewing se leerderrade uitgenooi word om mekaar beter te leer ken en in die komende jaar saam te werk en in leierskap te groei. Die PRG-leerderraad het oudergewoonte besoek afgelê by die skool se stigterslede-monument waar hulle ’n tradisionele kranslegging gehou het.

Die doel van die prettige kompetisie was om geld vir die Borg-’n-Paul-Rooser-fonds in te samel.Foto:

Registerklasse het kragte saamgesnoer om self geld vir die fonds in te samel.Foto:

En op Vrydag, 3 Maart, het die klasse mekaar die stryd op die kaskar-baan aangesê.Foto:

Tussen die seuns en borge is genoeg geld ingesamel om twee skoolleerders vir ’n jaar te ondersteun. Foto:

Altesaam 1 300 PRG-leerders het op 3 Maart aan die eerste Tiger Wheel & Tyre PRK Kaskar Fundracer deelgeneem. Die doel van die prettige kompetisie was om geld vir die Borg-’n-Paul-Rooser-fonds in te samel. Registerklasse het kragte saamgesnoer om self geld vir die fonds in te samel. En op Vrydag 3 Maart het die klasse mekaar die stryd op die kaskar-baan aangesê. Tussen die seuns en borge is genoeg geld ingesanel om twee skoolleerders vir ’n jaar te ondersteun.

Die hoogtepunt van elke senior Paul Rooser se verjaarsdagweek is die jaarlikse Verjaarsdagbal. Die verjaarsdagweek eindig met dié gewilde sosiale geleentheid, waar leerders van PRG se suster- en buurskole uitgenooi word as metgeselle.

’n Tema wat sterk in Paul Roos se 157ste jaar figureer, berus op een van Paul Roos se sewe kernwaardes naamlik ‘verantwoordelikheid’. Waar top-gehalte opvoeding geniet word, lê ook verantwoordelikheid om vir die wyer gemeenskap van waarde te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.