Ná ’n baie mededingende naweek op verskeie vlakke en in verskeie sportkodes bleik dit dat Paul Roos in die meeste van die tradisionele sportsoorte waarin hulle teen hul opposisie van Gqeberha deelgeneem het, wel die oorhand gehad het.
Hierdie jaarlikse kragmeting is een van twee groot derbies waar die hele skool aan ’n verskeidenheid sport- en kultuurkodes deelneem.
Grey High het vroegoggend die voorsprong geniet deur die gholfkragmeting en die muurbalwedstryde te wen, maar daarna het Paul Roos in die meer tradisionele sporte die oorhand gekry. Paul Roos het die landloop, skaak, eSport en bergfietsry algeheel gewen en skoonskip in die debatskompetisie gemaak.
Op die hokkieveld was die mededinging egter sterker, maar Paul Roos het 10 van die 16 wedstryde gewen. Die o.14 A-span het die knie 3-2 teen ’n sterker span gebuig en die o.16 A-span moes met ’n gelykopuitslag tevrede wees. Die eerstespanwedstryd was ’n naelbytvertoning met beide spanne wat hard baklei het om as wenners weg te stap. Grey High se doelwagter het Paul Roos ’n paar keer gestuit, maar Paul Roos se eerste span het die wedstryd uiteindelik 2-1 gewen.
Op die rugbyveld was Paul Roos sonder twyfel die sterker skool en het slegs een wedstryd teen Grey High verloor. Veral op o.16-vlak was die jongmanne van Paul Roos te sterk vir hul teenstaanders en dié spanne het elke wedstryd met meer as 40 punte gewen.
Die eerstespan se wedstryd was ’n harde stryd wat op enige tydstip enige kant toe kon gaan. Paul Roos het in die tweede helfte teruggeveg en met ’n welverdiende sege van 39-24 weggestap.