Vyftig jong rugbyspelers van Paul Roos Gimnasium het verlede naweek die Onder-Pappegaaiberg-begraafplaas by Stellenbosch saam met personeel van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) besoek. Dit is die laaste rusplek van drie van Suid-Afrika se grootste en mees legendariese rugbysterre. Dié seuns, wat daarvan droom om eendag die geleentheid te kry om die groen en goud aan te trek en hul land trots te maak, het geluister na staaltjies oor August Frederick Markötter (Oubaas Mark), en inspirasie gevind by Danie Craven en Paul Roos, wat gesamentlik oor ’n tydperk van 90 jaar tussen 1903 en 1993 groot impak op Suid-Afrikaanse rugby gehad het en selfs ’n bydrae tot wêreldrugby gelewer het. Riley Norton, ’n gr. 11-leerder en ’n verteenwoordiger van die SA o.19A-rugby- en krieketspanne, was werklik geïnspireer deur die uitstappie. “Dit was fantasties om meer te kon leer van ons geskiedenis en voorgangers. Dit is so inspirerend om te besef dat jy nie net vir die span speel nie, maar vir almal wat voor ons was en ook tot die Paul Roos-nalatenskap bygedra het. Ons is deel van iets groter,” het hy gesê. Hier is die groep by die graf van Paul Roos, na wie die skool vernoem is.