SKOLE: Paul Roos se krieketspanne sit Boishaai ore aan

Die o.19A-krieketspan van Paul Roos Gimnasium het sy stem dik gemaak en gewys waarom hy as een van die sterkste spanne in die Boland geag moet word, toe hy Saterdag (28 Oktober) met drie paaltjies teen Boishaai gewen het.


Die o.19A-krieketspan van Paul Roos Gimnasium het sy stem dik gemaak en gewys waarom hy as een van die sterkste spanne in die Boland geag moet word, toe hy Saterdag (28 Oktober) met drie paaltjies teen die o.19A-span van Hoër Jongenskool Paarl koning gekraai het.

Die spanne het by die Markötter-velde mekaar die stryd aangesê, met die besoekers wat eerste gekolf het en vir slegs 136 lopies uitgehaal is. Die PRG-boulers Callum Appollis (3/13) en Luca Plekker (3/32) het hul span se beste boulsyfers gelewer.

Op hul beurt het die tuisspan se kolwers met redelike gemak die teiken bereik (137/7), met Cornel Swart (57) en Beor van Reenen (24*) wat die meeste lopies in hul span se drie-paaltjie oorwinning aangeteken het.

Die PRG en Boishaai tweede spanne was ook in aksie, met die Stellenbossers wat die naelbytstryd met agt lopies beklink het. PRG het eerste gekolf en is almal vir 206 uitgeboul. Nic Stuurman (69) was die beste kolwer.

In hul kolfbeurt is die Paarliete vir 198 lopies uitgehaal, danksy die akkuraatheid en boulvernuf van Juan Vermeulen (4/30) en Keanu Williams (4/48).

Die o.19C-spanne van die twee skole het ook die veld gevat, met PRG wat ook in dié wedstryd koning gekraai het. Die Stellenbossers het eerste gekolf en 147/5 aangeteken, met Sebastien Griffiths (59) en Daniel Brand (44) wat grotendeels tot die totaal bygedra het.

Booishaai is in hul kolfbeurt vir 140 uitgehaal en PRG wen die wedstryd met sewe lopies. Bruce Petersen (4/21) was die beste bouler.

Die Paul Roos o.15A-span het in sy wedstryd teen Boishaai ’n oorheersende agt-paaltjie sege gehad. Die Paarliete het eerste gekolf en is vir 107 lopies in 32.4 boulbeurte uitgehaal, met Benn Coetzee (4/28) en Ben van Niekerk (2/7) wat goed geboul het.

PRG het met gemak die teiken bereik (108/2 in 23.2 boulbeurte), danksy goeie kolfwerk deur Kieran Swile (57*) en Jason Raal (26*).

In sy wedstryd teen Boishaai het die o.15B-span van PRG ’n vyf-paaltjie oorwinning behaal. Boishaai het eerste gekolf en is vir 111 lopies almal uitgehaal, met PRG-bouler Logan Lackay (4/8) wat die beste geboul het. Die Stellenbossers het met gemaklik oor die lyn gekom (112/5), met Louis Kriel (39) wat die meeste lopies vir sy span aangeteken het.

Die o.14A-span van PRG was die enigste span wat nie ’n oorwinning teen Boishaai kon behaal nie. Hulle het eerste gekolf en is almal vir 158 uitgehaal. Nathan Barnard (26) was die beste kolwer. In hul kolfbeurt het die Paarliete die teiken met gemak behaal (159/3) en die wedstryd met sewe paaltjies gewen. Pieter Luttig (3/50) was die beste PRG-bouler.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.