Die rasieleiers van Neethling vier die span se sege in die jaarlikse Interhuis-atletiekbyeenkoms van Paul Roos Gimnasium.


Die hitte het geen demper geplaas op die prestasies van die atlete van Paul Roos Gimnasium (PRG) tydens die skool se jaarlikse Interhuis-atletiekbyeenkoms die afgelope Vrydag (19 Januarie) nie.

Die dag was propvol aksie en Barthelemie Bena-Ntumba het op die baan gewys waarom hy as die vinnigste Paul Rooser gekroon is danksy sy skitterende 11.14 sek in die o.19 100 m-naelloop.

Wayden Julies het die legendariese Michael Johnson nageboots deur die o.19 200 m- en 400 m-wedloop te wen.

Zachary Alfred het die titel van Junior Victor Ludorum verower danksy sy vertonings in die o.15 100 m-hekkies en 100 m-naelloop. Nathan Sander het ook gewys hoekom hy ’n groot gunsteling vir die komende Prestige-byeenkoms is, met twee goeie vertonings in die o.19-gewigstoot en -diskus, terwyl Zak Hickman die ster van die dag was. Hickman het drie items gewen, naamlik die o.17-gewigstoot, -spiesgooi en -hamergooi, asook die titel as Senior Victor Ludorum, en het 24 punte vir sy huis bygedra. Luc Botha (o.15) is die junior wat die meeste punte vir sy huis bygedra het nadat hy die 200 m, 300 m-hekkies en 400 m gewen het.

Die Neethling-span het ’n lang droogte gebreek en die algehele titel met 498,5 punte gewen, met Braid wat met 442 punte gevolg het. Hofmyer en Murray het die dag afgerond met onderskeidelik 391 en 376,5 punte. Toe die rektor, André van Staden, die trofee aan die Neethling-rasieleiers oorhandig het, was dit duidelik wat die oorwinning beteken het.

Die groot wenners vir die dag was:

. Beste o.14-baanatleet: Geshem Pietersen;

. Beste o.14-veldatleet: Zaiden Bell;

. Beste o.15-baanatleet: Zachary Alfred;

. Beste o.15-veldatleet: Nathan Barnard;

. Beste o.17-baanatleet: Jordan Steenkamp;

. Beste o.17-veldatleet: Zak Hickman;

. Beste o.19-baanatleet: Wayden Julies;

. Beste o.19-veldatleet: Nathan Sander;

. Junior Victor Ludorum: Zachary Alfred;

. Senior Victor Ludorum: Zak Hickman;

. Junior wat die meeste punte vir sy huis bygedra het: Luc Botha (24 punte);

. Senior wat die meeste punte vir sy huis bygedra het: Zak Hickman (24 punte).

You need to be Logged In to leave a comment.