As een van die oorspronklike spanne in die ontstaan van die Jean de Villiers-o.16-rugbyfees in 1993, het Paul Roos Gimnasium (PRG) se o.16A-span die 30ste keer aan dié toernooi deelgeneem. Behalwe vir 2020 en 2021, toe die inperkingsmaatreëls weens die Covid-19-pandemie die toernooi tydelik gekniehalter het, neem die Stellenbossers nog elke keer die uitnodiging aan om teen die land se beste spanne kragte te meet. Vanjaar was geen uitsondering nie, met die o.16A-span wat die week met ’n 40-0-sege teen die Hoërskool Nelspruit begin het. Die span het ook ’n herontmoeting ná verlede jaar se Wildeklawer-reeks met die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria gehad. Die PRG-span het die Pretorianers in ’n harde wedstryd met 21-10 die loef afgesteek. Die laaste wedstryd teen die Hoërskool Rustenburg was ’n geleentheid waar almal in die toergroep speelkans gekry het. PRG se oorwinning van 43-20 het weer gewys waartoe dié ouderdomsgroep in staat is. Die fees is van Donderdag 21 tot Maandag 25 Maart deur Paarl Gimnasium aangebied.


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article