Jake Downie van PRG speel vanjaar uitsonderlike tennis.Foto: Charmaine Sander Photography


Paul Roos Gimnasium (PRG) se drie top-tennisspanne het onlangs aan drie eersteklas-toernooie deelgeneem en uitsonderlik presteer.

PRG het die 18de Zest Fruit Gerrie Berner-tennistoernooi aangebied waarin hul eie eerstespan gespeel het. Die skool se tweede span het vir die tweede jaar na Nelspruit gereis om deel te neem aan die Groot Vyf-tennistoernooi en die derde span het vir die eerste keer aan die Tjaart Vorster-tennistoernooi in Cradock deelgeneem.

Die eerstespan het ’n spannende eindstryd naelskraap met 2-4 teen Grey College verloor.

Dit was Grey College se eerste titel by die toernooi in 18 jaar. PRG het die titel die vorige vyf jaar gewen.

Die PRG-tennisspelers het ondanks ’n swartsuidoostewind tennis van hoogstaande gehalte gespeel. PRG het al sy wedstryde in die rondomtalie-fase gewen en onder meer met die sterk span van Hoër Jongenskool Paarl afgereken. In die halfeindstryd het PRG vir Hoërskool Outeniqua geklop.

Die Nelspruit-toernooi is ook deur die weer geteister. Ten spyte van verskeie onderbrekings weens reën het PRG ná ’n naelbyt-eindstryd teen Menlopark van Pretoria met die louere weggestap.

In Cradock was die manne ook in ’n taai stryd gewikkel met die Hoërskool Pearson en moes die knie buig nadat hulle 11-13 verloor het.

You need to be Logged In to leave a comment.