Die operasangeres Paulina Malefane, wat in Khayelitsha grootgeword en oor die wêreld heen opgetree het, sal môre (Vrydag 10 Mei) ’n opwindende sangprogram in Kaapstad aanbied.
Dié bekroonde sangeres tree op met die tenoor Sipho Fubesi, wat in die Royal Opera House in Londen en by Glyndebourne gesing het. Die duo word deur die pianis José Dias begelei.
’n Baie jong Malefane het in 2005 op wêreldwye skerms uitgeblink as ’n passievolle Carmen in U-Carmen eKhayelitsha, ’n Xhosa-verwerking van Bizet se opera Carmen, wat in ’n Kaapstadse township afspeel.
Hierdie buitengewone rolprent het die Goue Beer-prys by die Berlynse internasionale rolprentfees ontvang. Sy het daarna in verskeie Europese hoofstede as sangeres begin optree.
Dié inwoner van Somerset-Wes het al in Londen se Albert Hall en in Swede gesing, waar sy die rol van Bess in Porgy & Bess vertolk het.
Sy het ook saam met die Berlynse filharmoniese orkes onder Sir Simon Rattle en die Londense simfonie-orkes opgetree.
Sy is in 2022 vir ’n Grammy-toekenning vir haar optrede in Janácek se A Cunning Little Vixen, wat in Berlyn sowel as Londen opgevoer is, benoem.
Met die bekende Isango Ensemble, waarvan sy een van die stigters was, het sy in produksies by die Shakespeare-wêreldteater asook die Young Vic in Londen as sanger geseëvier.
Isango is ’n toneelgeselskap wat kunstenaars uit die townships van Kaapstad lok en oorsese gehore met hul vernuwende en verbeeldingryke teaterproduksies bekoor.
Malefane bestuur tans ’n program in Kaapstad waarin jong musiekliefhebbers uit minderbevoorregte gebiede musieklesse ontvang.
Indien hulle besluit om musiek of opera te studeer, beskik hulle reeds oor ’n teoretiese agtergrond waaruit hulle kan put.
- Malefane se optrede môreaand (Vrydag 10 Mei) vind plaas by die Youngblood-galery in Breestraat, Kaapstad, om 19:00. Kaartjies is aanlyn by Quicket te koop.