“Toe ek hom op die hospitaalbed neerlê, wou ek graag hê hy moes nog lewe, maar die dokter het gesê hy is reeds 18 minute gelede dood.”
So beskryf ’n hartseer oupa die oomblik toe sy hele lewe verander het.
Harry Presens van Klapmuts sê hy kon nie glo dat sy kleinseun Jean-Luke Dumas (2) se liggaam vir so lank al leweloos in sy arms was nie.
Luke is Donderdag omstreeks 18:30 op ’n sypaadjie in Juliusstraat doodgery toe hy saam met sy twee oumas gestap het.
“Ons het saam met sy ouma Suzie ’n entjie gestap, want sy’t soos gewoonlik vir Luke kom groet na werk. Ons het in Juliusstraat op die sypaadjie gestaan toe die kar vinnig om die draai kom en Luke raakry. Ek kon my oë nie glo nie, ek het net my kom houvas,” vertel Luke se oumagrootjie Barbie April. Luke was in Barbie se sorg.
“Hy (Luke) het uit die pad probeer kom, maar die kar het hom teen die been getref. Hy het vorentoe geval en sy kop het onder die wiel beland. Die bestuurder het toe weer agteruit gery en vir ’n tweede keer oor Luke gery.”
Suzie Dumas sê sy het Luke dadelik opgetel en in die kar gelaai. “Sy oë was oop. Die regterkant van sy kop was oop en het pap gevoel, maar ek het hom opgetel en teen my gehou. Donderdag was die gelukkigste wat ek hom ooit gesien het, maar dit het ongelukkig geëindig. Ek kan dit steeds nie glo nie,” het Suzie gesê.
Volgens Barbie was Luke ’n baie slim kind vir sy ouderdom. “Hy sou nooit in die pad speel of naby karre kom nie. Hy was bang vir rygoed en het altyd weggehardloop as jy een hoor of sien en het altyd my hand styf vasgehou as ons loop.
“Hy was baie slim en het op nege maande reeds begin loop. Toe hy een was, kon hy reeds vlot praat. Hy was altyd lief om vir almal soentjies te gee,” het Barbie bygevoeg.
Barbie sê hy was ook baie lief vir diere en het altyd met honde gespeel.
’n Saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek.
Luke se begrafnis vind Saterdag 5 Maart om 08:00 by die huis en 09:00 by die Mooihawenskerk in Klapmuts plaas.