’n Verrassing wag Saterdag 26 November op besoekers aan die Rupert-museum op hul maandelikse museumdag.
Dit is die eerste keer dat Boland Bonsai Kai ’n bonsai-uitstalling in ’n kunsmuseum gaan hou, en dít in die vertrek waar Pierneef se beroemde stasiepanele is en wat van sy beroemde boomskilderye bevat – ’n vertrekpunt vir ’n eie, eg Suid-Afrikaanse bonsaistyl, die Pierneef-styl.
Só word ’n dialoog tussen hierdie twee kunsvorms geskep en hierdie uitstalling behoort dus van ewe veel belang vir bonsai-kwekers as vir kunstenaars en liefhebbers van die visuele kunste te wees.
Boonop is dit die 30ste bestaansjaar vir Boland Bonsai, ’n mylpaal wat gewis gevier moet word.
Lede van die klub sal toere van die bome op die uitstalling van 10:00 tot 11:00; 11:00 tot 12:00 en 15:00 tot 16:00 aanbied en hul kennis en wenke met besoekers deel.
Voorts sal Winfried Lüdemann, die voorsitter van Boland Bonsai Kai, ’n demonstrasie in die biblioteek vanaf 10:30 tot 11:30 aanbied. Geen besprekings is nodig vir die toere of die demonstrasie nie. Bonsai-bome sal Saterdag te koop wees en die bonsai-uitstalling duur tot Sondag 27 November.