Dit is nie elke dag dat internasionale sokkersterre op ’n Cloetesville-skool toesak vir die opening van ’n wêreldklas sportveld nie, maar Pieter Langveldt Primêr pronk wel met dié eer.
Teen die hange van Cloetesville is twee nuwe kunsgrasvelde waar die leerders nou alles van netbal tot sokker kan speel. Terry Phelan, voormalige Manchester United-speler, was onder diegene wat die opening van die Courts of Hope Vrydag (1 November) ná maande se harde werk en beplanning bygewoon het.
Marco Botha, die uitvoerende hoof van die Open Play-stigting, en sy span het die skoolhoof, Shafiek Jacobs, met die hulp van hul vennote oor die projek genader.
“Dit is nie altyd lekker vir ons leerders buite die skoolhekke nie. Deesdae is hulle te bang om selfs winkel toe te stap, maar ek glo sportvelde moet veilige ruimtes vir kinders wees,” sê Jacobs.
Bendegeweld kom gereeld in die buurt voor en die skoolhoof sê indien enigeen streke by die skool wil uithaal, sal hy vinnig agterkom hy is die enigste gangster by Pieter Langeveldt. Jacobs sê die nuwe sportgeriewe bring nie net hoop vir leerders nie, maar vir die hele gemeenskap. Hy glo vas die velde sal help om die toekomstige sportsterre van Cloetesville op die regte pad te sit.
“Hierdie skool sal uiteindelik so goed soos ’n spog- privateskool wees – dit is ons droom. Julle kan maar lag, maar die potensiaal van die skool en sy leerders sal ontgin word en sport is ’n manier om dit te doen. Ons leerders neem nou aan 16 sportsoorte deel en kan teen die bestes van Stellenbosch meeding.”
Jacobs sê die Courts of Hope is ’n droom wat bewaarheid is danksy die vennote wat dit moontlik gemaak het. “Gelukkige leerder, gelukkige onderwyser, gelukkige skool,” is die sentiment wat Jacobs en sy personeel dryf.
Noel Petersen, die direkteur van die Kaapse Wynlande se onderwysdepartement, stem saam en meen die belegging van die Open Play-stigting, Global United-sokkerklub en Stellenbosch-sokkerklub, bring hoop.
Open Play het verlede Desember ’n soortgelyke sokkerveld by Khayamandi Primêr geopen. Die Stellenbosse Open Play-stigting streef om plaaslike kinders te help om hul potensiaal te ontdek deur veilige openbare ruimtes te skep.
“Die hartjie van die projek lê daarin dat ons in gemeenskapsontwikkeling glo. Om die skool te help, is om die gemeenskap te help, en daarom het al die rolspelers in die projek ingekoop,” verduidelik Botha. Hy sê ’n groot faktor in die sukses van die Courts of Hope was Jacobs en sy personeel se inkoop.
Die oud-leerder en Stellenbosch se onderburgemeester, Jeremy Fasser, het die gemeenskap gemaan om eienaarskap van die fasiliteit te neem en seker te maak dit word nie gevandaliseer nie.
Fasser was die eerste een wat ’n doel aangeteken het toe hy teen Stellenbosch-sokkerklub se kaptein, Lee Langeveldt, te staan gekom het. Fasser het aanvanklik gesukkel, maar uiteindelik die bal verby Langeveldt gekry.
Die skool se netbal- en sokkerspanne het die dag met ’n paar wedstryde op hul Courts of Hope afgesluit.