Taasha Thorne en Sydney Claassen van die plaas Pinehaven saam met leerders van die Dorothea Spesiale Skool by Pinehaven se skenking van vars groente.

Die boer Sydney Claassen van die Pinehaven-plaas in Annan- dale het Donderdag (21 Augustus) sy gemeenskapsuitreik met ‘n skenking aan die Dorothea Spesiale Skool voortgesit.

Claassen is een van vyf boere van Pinehaven. “Gemeenskapsbetrokkenheid is een van die hoekstene van ons onderneming,” sê hy.

Dié Stellenbosser sê nadat hy aan die Hoërskool Stellenzicht matrikuleer het, het hy besef hy wil meer doen as om net ‘n werker op ‘n plaas te wees. Hy het besluit om oor die daaglikse bedryf van ‘n plaas by Kaap Agri te studeer. Sedertdien het hy en sy vennote Pinehaven in ‘n suksesvolle kommersiële plaas opgebou, wat onder meer groenboontjies, koolgewasse en ander groente aan een groot kleinhandelaar verskaf.

Die plaas verskaf ook vars groente aan plaaslike skole.

Die skenking aan Dorothea was deel van ‘n uitreik saam met Agrimark, wat ondersteuning aan Claassen en sy kollegas bied.

“Ons het in 2016 begin en in 2019 ‘n kommersiële plaas geword. Ons het die afgelope paar jaar 30% van die tyd foute gemaak, maar danksy dit het ons 70% van die tyd sukses behaal,” sê hy.

“Daar is soveel kleiner kommersiële boere wat bogemiddeld vaar, maar sukkel om by die nodige hulpbronne uit te kom om hul kapasiteit na die volgende vlak te neem. My hoop is om die skakel tussen die boer en die gemeenskap te verbeter sodat meer boere hul onderneming kan bou en die gemeenskap beter voedselsekuriteit kan hê.”

Die plaas verskaf ook deeltydse werk aan kliënte van die Hope Revolution-rehabilitasie- sentrum.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article