Oplettende inwoners van Stellenbosch sou die afgelope paar weke interessante straatkuns in en rondom die dorp opgemerk het.
Dit is weer tyd vir die jaarlikse PJO-inni-Bosch-kompetisie wat die PJ Olivier-kunssentrum in samewerking met Proud Partners vir hul graad 10-leerders aanbied.
Die kompetisie, wat groot geldpryse op die spel het, is deel van die leerders se leerplan en het ten doel dat die omgewing deel moet uitmaak van hulle kunswerke.
Volgens Isabel Verwey, uitvoerende direkteur van Proud Partners wat die kompetisie borg, is hulle verras met die kwaliteit van vanjaar se inskrywings.
“Ons moedig die leerders aan om hulle kunswerke te beplan rondom die omgewing waarin dit geskilder gaan word en vanjaar was die inskrywings besonder oorspronklik en uiteenlopend. Die Kaapse toneel bestaan uit plastiese koeldrankbottels wat by Rhenish Primary School se ogiesdraad ingedruk is en die swaai waarop die meisie sit se toue is ’n rankplank wat by ’n vaal muur opgroei – die leerders was werklik kreatief!”
Die wenner wat deur Proud Partners aangewys word, sal by PJ Olivier se lentedagvieringe op 2 September bekend gemaak word. Daar word ook ’n prys gegee aan die kunswerk wat die meeste likes kry op PJ Olivier se Instagram en inwoners het nog kans tot 1 September om te stem vir hulle gunstelingkunswerk. Daar sal ook prysgeld van R500 gegee word aan een gelukkige persoon wat gestem het en wie se naam uit ’n hoed getrek word.
Die kunswerke sal na ses maande weer verwyder word.
Kom kyk hier na die kunswerke:
#1 Kunswerk is by die meulstroom tussen die Braak en Checkers.
#2 Kunswerk is teen ’n kunssentrum se grensmuur sigbaar vanaf Checkers-parkeerterrein.
#3 Kunswerk is sigbaar op ’n skuins muur op die hoek van Adam Tas- en Alexanderstrate.
#4 Kunswerk is teen ’n heining van Rhenish Primary se sportvelde sigbaar uit van Rheedestraat.
#5 Kunswerk is by Paul Roos op die pad tussen die ou en die nuwe musieksentrums.