Plaaslike akteur in gru-film ‘Gaia’ te sien

Die plaaslike akteur Alex van Dyk (19) is te sien in die nuwe gruwelfantasie Gaia wat verlede Vrydag 22 April op BoxOffice bekend gestel is.


Die plaaslike akteur Alex van Dyk (19) is te sien in die nuwe gruwelfantasie Gaia wat verlede Vrydag 22 April op BoxOffice bekend gestel is.

Van Dyk vertolk die rol van Stefan, die tienerseun van ’n kluisenaarspa, vertolk deur Carel Nel, wat ’n post-apokaliptiese leefstyl volg. Hulle volg skynbaar hul eie godsdiens in ’n geheimsinnige verhouding met die natuur.

Hulle word ontdek deur ’n natuurbewaarder, vertolk deur Monique Rockman, tydens haar roetine patrollie deur die wildernisgebied. Vele aspekte van hul bestaan is verdag, maar wanneer hul skuiling een nag deur vreemde, onmenslike wesens aangeval word, besef sy daar skuil ’n groter bedreiging in hierdie ontluikende wildernis.

Gaia gaan nie oor ’n liefdevolle aardmoeder nie. Dit is ’n ekologiese gruwelfantasie wat die mens se geskiedenis irrelevant maak.

Van Dyk studeer en woon tans op Stellenbosch en sê toe hy die draaiboek van die film lees, het hy dit eers vreemd en senuagtig gevind. “Dit is dieselfde skrywer van een van die vorige films wat ek gedoen het, Griekwastad, so ek het half geweet wat hulle van my verwag. Gaia is ook die eerste film van sy soort in Afrikaans, ’n mens sien dit net in oorsese films.

“In vergelyking met vorige rolle was my rol in Gaia baie uitdagend, omdat ek nie soos met Griekwastad my emosies moes wys nie, ek moes my emosies baie onderdrukkend uitbeeld. Maar dit was lekker. Ek het soos met die vorige films baie geleer by die akteurs. Ek sal enigeen wat hou van gru-films aanmoedig om Gaia te kyk.”

Gaia het baie byval by oorsese gehore gevind en het talle toekennings by internasionale filmfeeste gewen.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.