Plaaslike dokter met Rhodes-beurs vereer

Die Rhodes-beurs vir 2021 vir Paul Roos Gimnasium en sy susterskole, Hoër Meisieskool Bloemhof en Renish Girls High, is vanjaar aan dr. Maxine Smit toegeken.


Die Rhodes-beurs vir 2021 vir Paul Roos Gimnasium en sy susterskole, Hoër Meisieskool Bloemhof en Renish Girls High, is vanjaar aan dr. Maxine Smit toegeken.

Dr. Smit het in 2012 aan die Hoër Meisieskool Bloemhof matrikuleer waarna sy medies aan die Universiteit Stellenbosch studeer het. Sy het al haar vakke met onderskeiding geslaag en die graad MBChB cum laude as die beste student in haar jaargroep verwerf.

Haar passie vir voorkomende mediese sorg, die bevordering van gesondheidsbewuswording en fiksheid het tot haar holistiese pasiëntversorging in haar dagtaak as medikus in die openbare gesondheidstelsel in Suid-Afrika gelei.

Dit is niks ongewoon vir haar om daagliks reeds 04:30 uit die vere te wees om ’n strawwe oefenprogram te volg om direk daarna haar passie as omgeedokter ’n onuitwisbare invloed op die lewe van haar pasiënte te laat nie.

Haar wens is om kliniese ervaring in veral die ortopediese en anesthesio­logiese gebied op te doen.

Die Rhodes-beurs sal haar die geleentheid bied om ’n MSc-graad in internasionale gesondheid en tropiese medisyne te verwerf.

Haar droom is om in die toekoms ’n multi-dissiplinêre hoëprestasie-fiksheidsentrum plaaslik te open om die vinnige herstel van sportbeserings te verseker asook om aan atlete uit alle gemeenskappe die geleentheid te gee om hul talente te ontwikkel om hul prestasiedoelwitte te kan bereik.

Dit is duidelik dat dié begaafde medikus en akademikus ’n waardige ontvanger van die gesogte akademiese prys is en Stellenbosch se naam, soos haar voorgangers, by Oxford met trots sal uitdra.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.