Die tussentydse komitee van die Stellenbosch-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) poog om die groep weer aan die gang te kry en vra nou inwoners om aan te sluit.
’n Verkiesing vir ’n nuwe komitee word vir Oktober beplan, maar intussen bestaan die tydelike span uit sakelui, verteenwoordigers van nie-regeringsorganisasies, buurtwaglede, die departement van maatskaplike ontwikkeling en natuurlik lede van die Stellenbosch-polisie.
Volgens André Pelser, wat vir nou die voorsitter is, weet die meeste inwoners nie juis wat die GPF doen en waarvoor die forum verantwoordelik is nie. “Ons is nie hier om waghond oor die polisie te speel nie. Die GPF sal ’n intensiewe inligtingsveldtog voer sodat verwagtinge van die publiek realisties is en rolspelers se verantwoordelikheid regverdig bejeën word. Rolspelers sal uiteraard hul kant moet bring en tekortkominge sal opbouend aangepak word,” verduidelik Pelser.
Gesamentlike veldtogte met die polisie oor geslagsgebaseerde geweld, jeug-misdaad en dwelmprobleme word deur die GPF aangebied om die publiek op hoogte te hou van die omvang van die probleem en waar presies inwoners kan aanklop vir hulp. Pelser sê besoeke aan skole en gereelde uitstallings by openbare byeenkomste help ook om die boodskap uit te dra.
“Gemeenskapsbetrokkenheid in veiligheid is krities belangrik vir ons sekuriteit. Lede van die publiek moet die Suid-Afrikaanse Polisiediens en private sekuriteitsmaatskappye help om misdadigers raak te sien en hulle aan te meld om misdaad te verhoed en hulle aan te keer.”
Die GPF het hulp van ’n kundige ingespan om ’n kaart en inligting oor misdaad-brandpunte in Stellenbosch te identifiseer. Gewapen met dié inligting hoop die forum om misdaadbekamping in die dorp te versterk.
Pelser sê dit is ’n werklikheid dat die polisie nie genoegsame hulpbronne het om misdadigers alleen te stuit nie. Daarom is dit belangrik vir sakelui, organisasies, klubs en inwoners om saam te werk om ’n gesamentlike poging aan te wend.
- Die datum vir die GPF se Oktober- vergadering en verkiesing van die nuwe komitee is nog nie gefinaliseer nie. Hou Eikestadnuus dop vir meer inligting.