Opleiding vir die 2024- e’Bosch-skoolvakansieprogram het vandeesmaand met opleiding in hidroponika begin.
Altesaam 21 inwoners van Klapmuts, Kylemore, Elsenburg (Vaaldraai), Cloetesville, Stellenbosch-sentraal en selfs so ver as Kuilsrivier het Saterdag (13 Januarie) byeengekom om te leer hoe om ’n vertikale groentetuin te maak. Die groentetuin-opleiding is deel van vanjaar se vakansieprogramme en hou groot belofte vir voedselsekerheid vir die res van die jaar in.
Gesonde en voldoende kos (voedselsekerheid) is een van die boustene van die organisasie se skoolvakansieprogramme. Tydens die program word tradisies oorgedra, soos speletjies/ontspanning, avontuur, kunsvlyt, drama, musiek en beweging binne die konteks van die Bybelse en Ubuntu-waardestelsel.
Die programme wat aangebied word, ontwikkel die kinders se karakter en gereedskap om ’n groter verskeidenheid uitdagings in ’n kind se lewe suksesvol aan te pak. In die geheel dit ’n uitkoms van hoop en veerkragtigheid.
Met hidroponika kan tot 39 plantjies in ’n kwart vierkante meter geplant word. Vir huishoudings wat nie grond het nie, of nie baie grond het nie, kan ’n volhoubare groenteproduksie ook by hul wonings gevestig word.
Die opleiding behels hidroponika-stelsels wat demonstreer hoe om water en voedingstowwe by plante te kry, hoe om die struktuur te bou waarin jou plante geplant kan word en hoe om die produksie-omgewing te bestuur vir voldoende plantvoeding, watergehalte asook hoe om peste te bestuur.
Die hidroponika-opleiding word aangebied in reaksie op die behoefte aan voedselsekerheid vir kinders tydens die skoolvakansieprogram. Dit is ook ’n geleentheid om ’n groenteproduksie-eenheid tuis te bou en seker te maak gesonde groente is gedurig beskikbaar.
Die hidroponika-verbouingstegniek is ook geskik vir die kweek van saailinge, blomme en selfs pampoene, botterskorsies en skorsies.
Hidroponika bied voorts die geleentheid om ’n bedryf te vestig wat saailinge maak, produksie-groeistelle bou, potjies en groeimedium verskaf sowel as die oes en aflewering van groente.
Hidroponika bring die tradisies van tuinmaak, boerdery en entrepreneurskap bymekaar.
- Stuur e-pos na members.ebosch@gmail.com indien jy belangstel om deel te neem aan ’n kursus en om op hoogte gehou te word van toekomstige opleiding.