Van links is Piet Carinus (voorsitter van die Stellenbosch-landbougenootskap), Colette Davids (Stellenbosch-landbougenootskap se streekkoördineerder), Nongcebo Langa (wynmaker

Twee plaaslike landbouwerkers van die Stellenbosch-streek is tydens die jaarlikse Wes-Kaapse Prestige-landboutoekennings by ’n galageleentheid, wat op 5 November by die Grand West Casino in Kaapstad plaasgevind het, op provinsiale vlak vereer.

Die Prestige-landboutoekennings, wat sedert 2005 deur die Wes-Kaapse departement van landbou aangebied word, gee erkenning aan die bydrae wat landbouwerkers tot die groei en volhoubaarheid van die landbousektor in die provinsie lewer. Vanjaar se toekennings het 994 deelnemers uit die 15 streke gelok.

Elton Thomas van die Lourensford-landgoed is as algehele provinsiale wenner in die drywer-afdeling aangewys en Nongcebo Langa van die Delheim-landgoed was die algehele wenner in die middelbestuur-afdeling.

Elton Thomas van die Lourensford-landgoed is as algehele provinsiale wenner in die drywer-afdeling aangewys.

“Ek voel oorweldig met die prestasie – dit het nog nie regtig ingesink nie,” sê Thomas, wat die afgelope ses jaar ’n drywer is.

“Ek het al voorheen aan kompetisies deelgeneem, maar dit was altyd in ’n groep-opset. Hierdie prestasie beteken baie vir my, veral omdat ek my pa en beste vriend aan Covid-19 verloor het. Dit was ’n moeilike tyd, en om erkenning te kry vir werk wat ek in hierdie tyd gedoen het, beteken vir my baie. Ek is dankbaar vir my bestuur wat my benoem het, en hul vertroue in my.”

Hy sê baie mense dink dit is maklike werk om ’n drywer te wees, maar hy meen dit verg veel meer as om net agter die stuurwiel in te spring. “As ’n drywer is die veiligheid van alles en almal wat jy vervoer, in jou sorg. Jy moet toesien dat alles te alle tye veilig is,” voeg hy by.

Langa sê sy is baie bly en opgewonde oor haar prestasie en bieg sy het nie besef hoe groot hierdie kompetisie werklik is nie. “Jy kom te staan teen die beste van die bestes in jou bedryf, en om hiervoor vereer te word, is ongelooflik,” voeg sy by.

Nongcebo Langa van die Delheim-landgoed as algehele wenner in die middelbestuurafdeling aangewys.

Langa is vroeër vanjaar as wynmaker by Delheim aangestel. “Ek het nie baie jare se ondervinding soos ander in die kompetisie nie, en om in die middelbestuur te wees, is iets nuuts vir my. Om hiervoor erkening te kry, is baie spesiaal. Ek het in hierdie kort tydjie baie geleer oor hoe om mense te bestuur om die beste uit hulle te kry. Ek is dankbaar vir die ongelooflike span saam met wie ek werk en vir my werkgewer se vertroue in my,” het sy afgesluit.

“Die doelwit van hierdie geleentheid is om die volle potensiaal van landbou te verbeter sodat dit kan bydra tot die ekonomie van die Wes-Kaap en om die maatskaplike waardes van die inwoners van die provinsie te verseker,” sê Emile van der Merwe, hoofbestuurder van die Stellenbosch-landbougenootskap.

Die Stellenbosch-streek se inskrywings, wat deur die Stellenbosse landbougenootskap georganiseer en bestuur word, het hierdie jaar ’n rekordgetal inskrywings opgelewer en 96 deelnemers het in die onderskeie afdelings aan die kompetisie deelgeneem.

Die Stellenbosch-streek se beoordeling het op 22 September by die Doornbosch-sentrum plaasgevind met die onderskeie wenners wat op 12 Oktober by Kromme Rhee aan die provinsiale beoordeling deelgeneem het.

Die Stellenbosch-landbougenootskap het hul dank aan alle produsente en werknemers, wat vanjaar deelgeneem het, uitgespreek en is dankbaar vir die groot rol wat die provinsiale departement van landbou in dié verband vervul.

You need to be Logged In to leave a comment.