Dertig jaar nadat wyle prof. Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel van die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) as die eerste bruin vroue-predikant van die destydse NG Sendingkerk ingesweer is, sukkel huidige vroue-predikante steeds met dieselfde geslagsonsensitiwiteit waarmee sy in 1992 te doen gekry het.
Patriargie is steeds die norm en vroue-predikante sukkel om as gelykes van hul manlike eweknieë aanvaar te word.
Dít was een van die besprekingspunte wat aan die lig gekom het tydens die vyfde jaarlikse gedenklesing van wyle Plaatjies-Van Huffel by dié US-fakulteit verlede Maandag (12 Augustus).
Vier vroue-predikante, onder prof. Anita Cloete van die fakulteit as fasiliteerder, het ’n gesprek gehou oor die lewe en werk van Plaatjies-Van Huffel en die vier het aspekte van haar lewe en artikels wat elkeen geraak het, bespreek. Die vier predikante was, dr. Marlene Mahokoto van die fakulteit, prop. Sabriena September, ds. Nobuntu Penxa-Matholeni en ds. Noxolo Fihla.
Al vier het groot bewondering vir Plaatjies-Van Huffel uitgespreek, veral omdat sy die eerste vrou van kleur was, wat die pad vir ander vroue wat ná haar in die bediening gekom het, gelyk probeer maak het. Haar toetrede tot die bediening is gesien as ’n voorreg wat aan haar gegee word, en nie op grond van wat sy reeds bereik het nie.
Haar man, ds. Dawid van Huffel, ook teenwoordig, het haar in al haar vuurdope bygestaan deur sy-aan-sy by haar te staan.
Plaatjies-Van Huffel was ’n klein vroutjie, maar groot in statuur en dis nie vandag altyd maklik vir mans om jou vrou die ruimte en erkenning te gee vir wat sy bereik het nie, maar hy het dit gedoen en hy was ook haar klankbord as sy ’n oor nodig gehad het om na te luister.
Gelukkig was hulle albei in die bediening, het saam klas geloop by die teologiese skool by die Universiteit van Wes-Kaapland tydens die moeilike tagtigerjare en hy het alles met haar gedeel.
Fihla het genoem dat sy besluit het om predikant te word, nadat sy Plaatjies-Van Huffel in Khayelitsha hoor praat het en dat dit sedert haar kinderdae ’n droom was om predikant te word, maar dat sy teenkanting van haar ma gekry het.
Nadat Fihla die versoek in Khayelitsha gehoor het dat meer vroue tot die bediening moet tree, het sy gehoor gegee aan die versoek en sy is nou ’n leiersfiguur in die Baptistekerk.
“Hoewel ek steeds dieselfde probleme ondervind waaroor sy in haar artikels geskryf het, is ek bly dat ek nie in haar skoene was toe sy aan die begin vrou-alleen die probleme eerstehands ondervind en hanteer het nie. Deur die jare het die probleme afgewater, maar dis nog nie heeltemal uit die weggeruim vir vroue om in dieselfde lig as hul manlike eweknieë gesien te word nie.”
Mahokoto het verwys na die gebrek aan begrip dat vroue na hul eie gesondheid moet omsien, want as die manlike predikante daarvan sou uitvind, sou dit as ’n swakheid gesien word.
“Ons as vroue-predikante preek anders van die kansel af en baie verloor uit die oog dat ons ook ander rolle het, as vrou en as moeder, en in die meeste gevalle stel vrouens hul gesinne eerste en hulself laaste. As jy wel ’n kwaal het en jy moet een of ander dokter besoek, dan moet jy dit in die geheim doen sonder dat die manlike predikante daarvan weet. Dit was so uit die staanspoor in die Verenigde Hervormingskerk van Suid-Afrika en dis vandag nog steeds die geval. Dit lyk asof die mans net wag dat jy erken dat jy weens gesondheidsredes nie opgewasse is om as gelyke gesien te word en ook nie goed genoeg is nie,” het Mahokoto aangevoer.
Penxa-Malotheni het gesê dat sy ’n probleem het met die feit dat Plaatjies-Van Huffel as die eerste bruin vroue-predikant bekend staan.
“Dit pla my dat ek nie die kans gehad het om dit met haar te bespreek nie, want dalk sou sy meer lig hierop gewerp het sodat ek met insig haar tweestryd om as eerste bekend te staan en terselfdertyd nederig te bly,” het sy gesê.
“Ek is seker sy het die teenstrydighede waarmee sy gekonfronteer is deur haar lewe, mee geworstel het en ek kan my net indink watter frustrasies sy moes ervaar het, maar dit het nie haar einddoel om vir ander vroue die weg te baan bereik nie. Daarvoor se ek vir haar dankie, want in ’n vorige gedenklesing is genoem dat dit ‘n baie eensame pad moes wees om te stap, sodat ander nou die vrugte van daardie pad kan pluk.”
Twee van haar susters, Evy Olivier en Sharon Plaatjies, het die gedenklesing bygewoon en was aangedaan oor wat Plaatjies-Van Huffel in haar leeftyd bereik het.
“Ek is trots op wat my suster bereik het en ook op die feit dat die teologiese fakulteit haar bydrae hier, maar ook wêreldwyd erken in die boek wat haar 21 artikels bevat, Learning from MA Inonyama, wat vanaand bekend gestel word, uit te gee. Met elke gedenklesing leer ons as haar susters en familie elke keer ’n nuwe aspek van haar lewe en ook watter rol sy gespeel het en vandag steeds speel,” het Olivier verduidelik.
Haar suster in Abu Dhabi, Francis Fourie, het nie woorde gehad oor hoe sy die gedenklesing moet beskryf nie, maar sy is dankbaar vir die erkenning wat Plaatjies-Van Huffel ontvang. “Dr. Natie Philander, een van die redakteure van die boek, noem haar ’n leeu, die hoof van die dierekoninkryk, en ons as haar familie aanvaar in nederigheid al die mooi woorde en erkennings wat sy na haar dood ontvang,” het Fourie gesê.
“My suster was ’n formidabele vrou as akademikus, maar vir ons was sy maar net ons suster wat haar hoed as professor by die universiteit gelos het, Dawid se ‘Mary my Cherie’ en een van wyle Johannes en Jakoba Plaatjies se sewe dogters, waarvan nog net vier lewe. Ek salueer my suster en het trane gestort toe ek sien hoe Broer Natie, soos sy na Philander verwys het, my boek teken.”
Plaatjies-Van Huffel was ook die Afrika-verteenwoordiger by die Wêreldraad van Kerke, eerste moderator van die VRKSA en die eerste bruin vroueprofessor by die teologiese fakulteit by Maties. Haar eerste gemeente was in Robertson in 1992 en sy het twee doktorsgrade in teologie verwerf. Sy is in Mei 2020 oorlede.