Plakkers brei verder uit

,

‘n Groeiende informele nedersetting buite Klapmuts is ‘n groot kopseer vir die Stellenbosch-munisipaliteit vandat onwettige strukture daar opgerig is.


‘n Groeiende informele nedersetting met 68 inwoners buite Klapmuts oorkant die stortingsterrein en skuins oorkant die polisiekantoor, ook duidelik sigbaar vanaf die N1, is ‘n groot kopseer vir die Stellenbosch-munisipaliteit vandat onwettige strukture daar opgerig is.

Volgens JC Anthony, Klapmuts se wyksraadslid, het die grond oorspronklik aan die Drakenstein-munisipaliteit behoort, maar dit is in Februarie 2022 aan die Stellenbosch-munisipaliteit oorgegee, waar die onwettige besetters reeds tóé al ‘n probleem was.

Anthony het verduidelik die Stellenbosch-munisipaliteit is tans besig met ‘n regsproses om die onwettige besetters te verwyder, maar volgens hom sal dié proses nog lank duur.

Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, wou egter nie oor dié regsgeding uitbrei nie.

“Die meeste van die individue wat op hierdie stuk grond woon, het aangedui hulle woon 10 jaar gelede en onlangs in die gebied, met sommige wat ‘n teenwoordigheid van langer as ‘n dekade erken het,” het Grobbelaar verduidelik.

Volgens Anthony het die munisipaliteit tans “geen beheer” oor die doen en late van die inwoners van dié informele nedersetting nie en is dit “hartseer” vir hom om te sien, omdat dit potensiële ontwikklinge in en om Klapmuts kan belemmer.

Hy het gesê die mense wat op die grond bly, kom uit Kraaifontein en Mbekweni, en ‘n groot rede vir hul trek na dié informele nedersetting buite Klapmuts is om plek te kry om te boer.

Klapmuts-inwoners en moto- riste sal gereeld ‘n aantal bokke en beeste gewaar wat langs die Ou Paarl-pad, oftewel die R101, wei met ‘n oppasser aan hul sy.

Volgens Anthony behoort die vee aan van die onwettige besetters, wat gedurende die dag hul diere op die grasveld langs die polisiekantoor laat wei.

Hy het bygevoeg die grond is immers nie gesoneer vir ‘n veeboerdery nie, maar slegs vir sakegebruik, en dit gaan moontlik as deel van ‘n toekomstige ontwikkeling naby Klapmutskop gebruik word.

Die grond het ook nie elektrisiteit of lopende water nie, het Grobbelaar bevestig.

Anthony het telefonies aan Eikestadnuus gesê ten spyte van wetstoepassers en ander

veiligheidsinstellings se gereelde verskyning om te verhoed dat nog strukture opgerig word, groei die nedersetting steeds.

Die besette grond strek oor sowat 225 hektaar.

You need to be Logged In to leave a comment.