Plant-teater op Hazendal te sien

,

Die plant-teater Between Two Worlds, wat deur die bekroonde plantkundige en landskapper Leon Kluge geskep is, vertel ‘n interessante storie. Die tentoonstelling, wat nou op die Hazendal-landgoed te sien is, […]


Die plant-teater Between Two Worlds, wat deur die bekroonde plantkundige en landskapper Leon Kluge geskep is, vertel ‘n interessante storie.

Die tentoonstelling, wat nou op die Hazendal-landgoed te sien is, is Dinsdag op Aardedag (22 April) bekendgestel en bied ‘n kykie na die skeppings wat Kluge onder meer vir die Chelsea-blommeskou en die Singapoer-tuinfees maak en waarvoor hy al talle pryse gekry het.

Between Two Worlds het by die laaste Singapoer-tuinfees, wat die grootste tropiese uitstalling van sy soort is, goud gewen.

Kluge is in 2014 vir die eerste keer na die Asiese blommefees genooi om aan die tentoonstelling deel te neem en het reeds toe beïndruk met African Thunder, wat die Afrika-landskap uitgebeeld het.

“Ons het voor die tentoonstellings maar min geslaap. Dit neem maande om te skep. In die geval van die Singapoer-tuinfees moet jy ‘n jaar voor die fees jou konsep en ontwerp indien, wat dan goedgekeur moet word,” sê hy.

“Drie weke voor die fees begin die fisieke werk dan om die hele tentoonstelling, sonder enige plante, te bou en die beligting en klank wat daarmee saamgaan, op te stel.”

Die span wat die tentoonstelling skep. bestaan dus uit ingenieurs, loodgieters en vrywilligers wat Kluge se konsep ‘n werklikheid maak. Elke element van die tentoonstelling word in ag geneem – van die klanke tot hoe die plante onder die verskillende ligte sal lyk en selfs die reuk wat besoekers kry. Die keuse van plante is ook uiters belangrik, aangesien die tentoonstelling 10 dae lank behoue moet kan bly, verduidelik Kluge.

“Between Two Worlds is daardie oomblik, die millisekonde, wanneer jy in die werklikheid is en gaan slaap. Dis waar hierdie twee dinge byeenkom en waar werklikheid fantasie word. Ons het almal drome waarin ons vlieg en allerhande ongelooflike dinge doen. Die uitstalling is daardie oomblik waar alles so begin blur, maar dit voel vir jou soos werklikheid,” vertel hy.

Feetjies en paddastoeltjies van sy kinderdae was deel van die inspirasie, maar Kluge meen dit is vir die kyker om die storie te interpreteer soos hulle goeddink.

“Ja, hierdie is teater en storie, maar ek wil ook hê iemand wat van plante hou, moet inkom en interessante goedjies sien. Ons het baie Suid-Afrikaanse orgideë van die Drakensberg se somerreënvaldele, ons eie inheemse mangrove – ‘n baie spesiale boom wat deur vlermuise bestuif word – en baie inheemse varings sowel as vleisetende plante.”

Om inspirasie vir sy skeppings te kry, loop Kluge gereeld in die bos en maak gereeld gebruik van inheemse plante vir sy skeppings. Vir die Singapoerse weergawe van Between Two Worlds het hy dus plaaslike plante daar gebruik en selfs takke van die lughawe ingespan. “Toe ek in Singapoer geland het, het ek gesien hulle snoei die bome by die lughawe. Ek het toe gevra of ons van daardie takke kan gebruik, en daardie uitstalling het selfs die bome van die lughawe bevat.

“Hier by Hazendal het ons dieselfde gedoen en die indringer-bloekom-takke afgesaag en gebruik.”

• Kluge se skepping is tot Vrydag 2 Mei op Hazendal te sien.

You need to be Logged In to leave a comment.