Meer as 80% van Suid-Afrikaanse gr. 4-leerders kan nie met begrip lees nie en teen gr. 6 sukkel 70% steeds, volgens die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls), ‘n internasionale studie wat elke vyf jaar gedoen word om geletterdheid te meet.
Wêreldonderwysersdag op Sondag 5 Oktober is ‘n ernstige wekroep aan die uitdagings in Suid-Afrika se onderwysstelsel, maar die Anna Foundation, ‘n organisasie sonder winsbejag in Raithby, werk daaraan om deel van die oplossing te wees.
Die stigting lei vroue van plattelandse gebiede deur hul 3R’s-program op om naskoolse projekte vir kinders aan te bied.
“Wanneer ‘n kind nie kan lees nie, is dit nie net sy opvoeding wat daaronder ly nie; deure gaan toe vir geleenthede, en gemeenskappe oor die land heen sit met potensiaal wat nie bereik word nie,” sê Marike Pienaar, ‘n senior opvoedkundige projekbestuurder by die Anna Foundation.
NASKOLE BIED HOOP
Die organisasie is 20 jaar gelede van stapel gestuur om die onderwyskrisis in SA aan te pak en leerders op plase geleenthede vir onderwyssteun, sport en lewensvaardighede te bied. Altesaam 21 Anna Foundation-naskole bied tans elke dag ‘n veilige hawe vir meer as 800 kinders oor die Wes-Kaap heen.
“Baie skole sukkel met onvoldoende infrastruktuur, wat tot groot klasse lei en wat doeltreffende onderrig en leer belemmer. Onderwysers dra dikwels swaar werklaste en werk met beperkte hulpbronne, wat die gehalte van hul onderrig beïnvloed,” sê Pienaar.
Die stigting lei plattelandse vroue as opvoeders op en stel hulle aan om vir kinders van landelike- en plaasgemeenskappe ‘n veilige plek te gee om te leer, sport te beoefen en sosiale vaardighede te ontwikkel.
Vir die fasiliteerder Katy Booysen, wat die Neethlingshof-naskool al langer as 10 jaar lei, is die invloed van die naskool duidelik. “Wanneer jy ‘n kind help en hulle verstaan uiteindelik, sien jy hoe hul hele gesig ophelder,” sê sy.

VOORMALIGE LEERDERS FLOREER
Haar seun, Wesley, is ‘n bewys van die program se langtermyn-uitwerking. Hy was vroeër ‘n leerder by ‘n Anna Foundation-naskool in die Boland en is nou lid van die Stellenbosch-munisipaliteit se brand-en-reddingsdiens.
Fasiliteerders ontvang elke twee weke opleiding in die vier streke waarin Anna Foundation se naskole geleë is: Stellenbosch, Rawsonville, Elgin en Langeberg. Hierdie sessies berei hulle voor om lees en wiskunde, lewensvaardighede en sport op ‘n prettige manier aan te bied.
“Ek is nie baie goed met wiskunde nie, maar die speletjies maak dit maklik vir my om die kinders met wiskunde te help,” sê Ayola Noyakaza, ‘n naskoolfasiliteerder.
Die sportelement wat die Anna Foundation aanbied, maak ook nuwe wêrelde vir leerders oop. “Die Anna Foundation het vir my as kind die kans gegee om te reis en aan wedlope deel te neem, wat ek my nooit sou kon indink nie,” sê die 21-jarige Marius September.
Hy was self ‘n leerder en deelnemer in die Stigting se 3R’s-program. Vandag studeer hy regte deur Rosebank College en is hy ook ‘n fasiliteerder by die naskool waar hy as kind was.
Deur in fasiliteerders soos Booysen, Noyakaza en September te belê, skep die stigting ‘n siklus van ondersteuning: Kinders kry die aandag wat hulle nodig het en fasiliteerders bou waardevolle vaardighede.
- Die Anna Foundation is afhanklik van skenkings om sy deure oop te hou. Om betrokke te raak of te skenk, stuur e-pos na [email protected] of besoek www.annafoundation.com.



You must be logged in to post a comment.