Die Pniël-rugbylegende Ivor Myburgh is Dinsdag (5 Desember) ná ’n lang siekbed in die ouderdom van 82 oorlede.
Myburgh, alombekend as “Pitty”, was die Dwarsriviervallei-dorp se bekendste sportfiguur wat veral in rugby uitgeblink het. ’n Breingewas is in Oktober by hom ontdek en hy is met terminale kanker gediagnoseer.
Myburgh is op 3 September 1941 in Pniël gebore en het op dié dorp sy skoolloopbaan voltooi. Hy het in 1962 met Elizabeth February, ook van Pniël, die huwelik ingetree en die paartjie is vir meer as ses dekades lank getroud voordat Myburgh in September sy geliefste vrou aan die dood moes afstaan. Uit dié huwelik is ses kinders gebore.
Volgens sy seun, Ivor Jnr., was sy pa saggeaard en teruggetrokke. “Hy het ’n groot hart gehad en het graag ander wat in die nood was gehelp,” sê hy. “My pa was lojaal en baie lief vir sy familie. Sy groot liefde was rugby. Hy het vir 38 jaar as drywer by Farmers gewerk en was ons gesin se enigste broodwinner. Hy het met graagte alleen vir ons gesin gesorg, terwyl my ma na die huishouding omgesien het.”
Sy liefde vir rugby begin op ’n jong ouderdom en strek regdeur sy lewe. Dis veral sy passie, lojaliteit en diens aan Pniël Villagers-rugbyklub waarvoor mense hom sal onthou. Myburgh het as 20-jarige by die klub aangesluit en het vir 23 jaar as voorsitter van dié klub gedien.
Hy was ook self op sy dag ’n kranige en begaafde rugbyspeler, wat op senter uitgedraf het en ’n belangrike lid was van die welbekende 1962 Villagers-kampioenspan wat die destydse Silwerbeker verower het. As prominente lid van dié span verwerf Myburgh ook sy Nasionale Federasie-kleure, ongetwyfeld ’n besonderse mylpaal in sy rugbyloopbaan.
Hy was ook Pniël se heel eerste en enigste Nasionale Federasie-spanspeler. Myburgh is ook deel van ’n groep spelers van kleur wat, ná Suid-Afrikaanse Rugby se eenwording, sy SA-kleure ontvang.
Benewens liefde vir sy gesin en die breë Pniël-gemeenskap, was rugby en Pniël Villagers ongetwyfeld ’n belangrike deel van Myburgh se lewe. Dié klub en sy suksesse het die jare heen genot en plesier aan hom verskaf, en hy was uiteindelik vir meer as 60 jaar aktief by rugby betrokke.
“Sy ongekende passie, sy respek vir rugby en sy liefde vir Pniël Villagers-rugbyklub en spelers, sal verewig en altyd onthou word. Sy Pniel Villagers erepresidentskap-toekenning dien ongetwyfeld as bewys van die klub en algemene rugbypubliek se dankbaarheid en respek teenoor Pitty,” lui ’n verklaring van dié klub.
“Sy nalatenskap as ’n plaaslike rugby-ikoon en sy bekendheid as ’n uitmuntende speler en uitstekende administrateur sal vir altyd as voorbeeld vir toekomstige generasies dien.”
Hy word oorleef deur sy vyf kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Myburgh word Saterdag (9 Desember) ter ruste gelê. Die huisdiens vind om 09:00 te Kloofstraat 5 plaas, en die kerkdiens is om 10:00 by die Pniël Congregational-kerk.
Vir meer inligting, kontak vir Ivor jnr. by 073 181 1308.