Pniël-boorling Davids oorlede

’n Grote in onderwys het onlangs gegroet.


’n Grote in onderwys het onlangs gegroet.

Thomas “Tommy” Davids het Vrydag 28 Junie ná ’n siekbed sy laaste asem uitgeblaas. Sy gesin was aan sy sy by die Helderberg-hospies in Somerset-Wes en het dit as “die einde van ’n era” beskryf.

Davids, ’n boorling van Pniël in die Boland en met ’n lewenslange passie vir onderwys en vir sy gemeenskap, het sy ganse beroepslewe van meer as 30 jaar aan voorskoolse, primêre asook sekondêre onderwys gewy.

Hy is 2 November 1941 gebore en het hom aan die destydse Hewat-onderwyskollege in Kaapstad as onderwyser bekwaam. Sy onderwysloopbaan het in 1963 aan die Albert Myburgh Sekondêre Skool in Bredasdorp begin.

Hy is op 3 Februarie 1967 met Elize, ’n boorling van Stanford en onderwyseres by Medland Primêr, getroud.

Daarna het hy ’n pos aan die Lückhoff Sekondêre Skool in Idasvallei, Stellenbosch, aanvaar.

In die vroeë sewentigs het hy ’n pos aan die Bergrivier Sekondêre Skool aanvaar en na Newton, Wellington, verhuis.

In die laat sewentigs het hy hom in die primêre onderwyssektor begewe en ’n pos as skoolhoof van ’n vyf-man-skool by Rust Stasie NGK Primêr, tussen Moorreesburg en Malmesbury, aanvaar. Hier het hy talle take, buiten sy pligte as klasonderwyser van gr.5 en gr.6, asook as skoolhoof verrig.

Take soos skoolbusbestuurder, noodhulpbeampte, rugbyafrigter en skeidsregter, katkisasiemeester en diaken is aan hom toevertrou, terwyl die Davids-gesin slegs 50 m van die skoolgebou af gewoon het.

Intussen het hy ook deeltyds aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) gestudeer en sy BA-graad in opvoedkunde vroeg in die jare tagtig verwerf.

In 1982 het hy die pos van skoolhoof aan die OJ Erasmus NGK Primêre skool in Kalbaskraal aanvaar. Hy is kort daarna as adjunkhoof van die Saxon Sea Sekondêre Skool in Atlantis aangestel. Met die skielike uittrede van die hoof van Saxon Sea is hy as die tweede skoolhoof aangestel.

In die vroeë 90’s is hy aangestel as inspekteur van skole (deesdae kringbestuurder) in die Weskus-onderwysdistrik, ’n pos wat hy tot sy aftrede in 1996 beklee het.

Davids was ook ’n bestuurslid van die Kaapse Professionele Onderwysersunie (KPO), onder leiding van dr. Franklin Sonn, voormalige rektor van die Skiereilandse Technikon en later ambassadeur in die VSA. Ander lede het onder andere ingesluit Andrew de Laura, die destydse skoolhoof van Schoonspruit Sekondêr, Chris Goliath (oud-burgemeester van Malmesbury) en ander onderwyskollegas soos Gilbert Messina, Dolly Marais, Randall van der Heever, George Strauss en David Piedt.

Davids se passie vir kleuterskoolonderrig het tot gevolg gehad dat hy minstens drie kleuterskole in sy tyd help stig het, onder andere in Idasvallei, Stepping Stones in Paarl en Vrolike Vinkies in Malmesbury. Hy was ’n lid van Die Stigting vir Gemeenskapswerk (FCW), onder leiding van Beulah Fredericksen, en was ’n aktiewe lid van dié organisasie.

Volgens sy seun Ervin was sy pa ’n man van integriteit, met empatie vir die minderbevoorregtes en trots op sy herkoms. Hy het nie geskroom om sy personeel, kollegas en selfs senior skoolhoofde aan te spreek oor ongedane sake nie en sal nog lank daarvoor onthou word.

Davids word oorleef deur sy vrou van 57 jaar, Elize, drie kinders, sewe kleinkinders en ses agterkleinkinders.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.