Die Adam Small-fees in Pniël, ’n literêre feesnaweek met trots deur die Pniël- Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) aangebied, het verlede naweek feesgangers en inwoners met literatuur uit die boonste gestoeltes vermaak. Chareldine van der Merwevan die Vriende Vir Afrikaans (VVA) deel haar indrukke oor die naweek.
Hierdie jaar by die Adam Small-fees was vir my as inwoner van die vallei weer eens ’n hoogtepunt! Dit was ’n wonderlike ervaring om by die fees saam met talentvolle mense, familie, vriende, kollegas en organiseerders te wees.
Dit is ook altyd baie lekker om in die prentjiemooi museumtuin saam met die vriendelike en gasvrye mense van Pniël te kuier. ’n Mens besef maar net elke keer hoe geseënd ons is, veral dié van ons wat bevoorreg genoeg is om in die omgewing te woon!
As deel van my werk by die Vriende van Afrikaans (VVA:ATKV) het ek ook die eer gehad om as gespreksleier tydens ons Ommietafelgesprek op te tree. Ons paneellede was Karien Brits (taalpraktisyn en deeltydse dosent: tale), René Bogovic (PhD-student: sosiologie aan die Universiteit van Toronto en deeltydse dosent met ’n liefde vir tale) en Jurgen McEwan (akteur, skrywer, opvoedkundige sielkundige, gemeenskapsteaterontwikkelaar en bekende seremoniemeester). Die tema vir ons gesprek was: Hoe het die dice vir Afrikaans geval.
Vrydag het my kollega Shireen Crotz ook ’n onderhoud met die bekende skrywer en aktrise Crystal-Donna Roberts gevoer oor haar debuutroman, Speurder Sammi, die blou steen. Meer as 100 gr. 8-leerders van Kylemore Sekondêr het in vervoering na Roberts geluister en nog ’n baie bekende skrywer, Anzil Kulsen, wat ook oor haar skryfwerk gesels het. Kulsen, ’n skrywer en projekorganiseerder by die ATKV, het ook die leerders aangemoedig om op hul drome te fokus en hard te werk.
Nog ’n kollega, Morne van Staden, en Klawerjas deur Crescendo ATKV het die fees Saterdagaand op ’n hoogtepunt afgesluit.
Die Adam Small-fees was vol hoogtepunte by elke sessie – die humor, die inhoud die aanbieding en onderhoude was fantasties! Mense wat nie die fees bygewoon het nie, het regtig uitgemis. Terwille van taal en kultuur en die ontwikkeling en groei daarvan, is hierdie inisiatiewe van kardinale belang.
Baie geluk aan al die organiseerders, kunstenaars en die Pniël Erfenis- en- Kultuurtrust. Welgedaan!