Pniël Villagers se jong spelers het aan die Score 7’s-toernooi op City Park en Brookside deelgeneem en baie goed gedoen. Van links is Melvin Pietersen, Jandré Pietersen, Bjorn Jacobs, Tinotenda Mumbijo en Brian Adams.


Die St. George’s-rugbyklub van Strand is Saterdag (16 November) op Brookside vir die tweede jaar agtereenvolgens as die Westelike Provinsie-rugbyunie se Score 7’s-toernooi-kampioen gekroon nadat hy in die eindstryd met Tygerberg met 17-12 afgereken het.

Stellenbosch se twee spanne, Kylemore en Pniël Villagers, wat tot die laaste 16 deurgedring het, het aan die agterste speen gesuig.

Kylemore kon nie St. George’s se opmars na die kroon keer nie en het in die kwarteindstryd met 24-7 in ’n duur 7’s-rugbyles die onderspit gedelf.

In St. George’s se ander wedstryde het hy met Atlantis met 33-22 en Macassar met 12-0 afgereken voordat Tygerberg ook die knie voor hom moes buig. St. George’s het die afgelope twee jaar in elke sewestoernooi waaraan hy deelgeneem het, geseëvier.

Die afgelope drie weke het 35 spanne aan die Score 7’s-toernooi deelgeneem en die eerste wedstryde is ook op Brookside beslis, voordat dit na City Park en weer terug na Brookside geskuif is.

Pniël Villagers se 7’s-span het na afloop van die ligaverpligtinge met sy voorbereiding vir die 7’s-toernooi onder die breiers Charles Stubbs en Hendrick Muller begin.

“Die voorbereiding in Oktober was om spesifiek aandag te gee aan die tegniese aspekte van 7’s. Die spelersgetalle het met elke oefening gegroei totdat ons die span moes finaliseer,” sê Muller.

“Nadat die span bepaal is, het die spelers in hul spanmaats begin glo en die entoesiasme het toegeneem. Die uitstaande spelers in die toernooi was ons kaptein, Hershelle van Ryn, Melvin Pietersen, Zandrey Julies, Jandey Pietersen, Monrey Jantjies en Shaun Lee, ons laksman.”

Pniël Villagers het tot die laaste agt deurgedring en Villagers in hul eerste wedstryd met 19-12 in ekstra-tyd gewen, daarna teen Tygerberg met 19-7 vasgeval en toe na die Plaat-halfeindstryd deurgedring, waar hulle 17-12 teen Durbell verloor het.

Die aandag verskuif nou na die WP-rugbyunie se bekeruitdeling waar spanne in die verskillende kompetisies vir hul harde werk beloon sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.