Die gemeenskap van Pniël het Sondag (1 Desember) op Die Werf bymekaar gekom om aan hul voorgeslagte te dink en saam na die toekoms te kyk.
Jaarliks herdenk dié gemeenskap die vrystelling van die slawe op 1 Desember 1834. ’n Spesiale kerkdiens is by die Pniël Congregational kerk gehou waarna ’n vreedsame optog teen mensehandel en geslagsgeweld in Hoofweg plaasgevind het.
Die herdenking het tydens die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog plaasgevind.
’n Gepaste Nagmaaldiens is gehou voordat lidmate, gemeenskapslede en besoekers, waaronder die burgemeester Jeremy Fasser en sy vrou, Mercia, oorkant die kerk by Die Werf bymekaar gekom het.
Pniëlers se voorgeslagte kom hoofsaaklik van vrygestelde slawe wat later plaaswerkers by omliggende plase was. Nou, 190 jaar later, streef die gemeenskap om sy ryke geskiedenis behoue te laat bly.
Urline Williams het die digter Diana Ferris se skepping “Ons Komvandaan” voorgedra.
Vier kranse ter nagedagtenis aan die vele afgestorwenes is as eerbetoon by die Slaweklok gelê.
“Ons lê die kranse as dankie vir ons voorvaders en wat hulle vir ons nagelaat het en sodat ons altyd kan onthou waar ons vandaan kom en ons moet bou. Dit is ook hoekom die Pniël- Erfenis- en Kultuurtrust daar is – om ons geskiedenis en kultuur te bewaar,” sê Janine Myburgh van die trust.
Die eerste lui van die klok het jare gelede, in 2003, op ’n nederige geleentheid geskied, met slegs drie mense – eerwaarde Leon Klate, Matthew Cyster en Oom Arthur – wat vir die klokslag byeengekom het.
“Wanneer vandag meer as drie mense vir hierdie geleentheid opdaag, is dit ’n geweldige groot prestasie,” sê eerwaarde Klate skertsend.
“Daardie klein begin het die grondslag gelê vir ons as gemeenskap. Daar is vandag vele gemeenskappe wat byeenkom om die dag van vrylating te herdenk, maar daar was ’n tyd wat dit byna net ons was wat dit herdenk het.”
Om 12:00 is die slaweklok 190 keer deur Frans Boonzaaier gelui.
Inwoners het die geleentheid afgesluit met die sing van die dorpslied “Coram Deo”. Dié lied is opgedra aan die gewilde voormalige onderwyser en bekende inwoner wyle Freddie Simpson.
Simpson is op 31 Julie vanjaar oorlede en was een van die stigter-trustees van die trust.
Die dag se herdenking is die middag afgesluit met die Senior Kerkkoor Cantata se optrede van “Love: A Gospel Christmas Celebration” deur Joel Raney.


