Sakelui by die 10de bestaansjaar van die Pniël-museum is, van links, Cecil Cyster, William Myburgh, Kathleen Nicholls, Peter (Pietie) de Wet, Henry Cyster, David de Wet en Richard Myburgh.


Die Pniël-museum het Donderdag 18 Mei, op Hemelvaartdag en ook Internasionale Museumdag, sy 10de bestaansjaar gevier. Die museum is op 18 Mei 2003 amptelik geopen.

Hierdie heuglike geleentheid is in die Pniël-museum aangebied en bygewoon deur talle besoekers, inwoners en sakelui van die dorp.

Eerwaarde Leon Klate van die Pniël Congregational Kerk het die geleentheid met ’n gebed en voorwoord geopen, voordat digters van Pniël se skryfskool stemming geskep het en die gaste met hul gedigte oor erfenis vermaak het.

Janine Myburgh, voorsitter van die Pniël Erfenis- en Kultuur Trust (PEKT), het almal hartlik verwelkom en gesê die Internasionale Museumdag-inisiatief het sedert 2020 drie van die Verenigde nasies se ontwikkelingsdoelwitte ondersteun. “Die fokus vir hierdie jaar se Internasionale Museumdag was museums, sustainability and well-being.”

Die gasspreker vir die geleentheid was Dennis Moss van Dennis Moss Vennootskap en ’n vriend van die Pniël-gemeenskap. Hierdie vennootskap is al meer as 30 jaar betrokke by ontwikkeling in die vallei, by onder meer die beplanning van die nuwe sportterrein, die ontwerp van die nuwe pastorie, en die restourasie en omskepping van die ou pastorie in die Pniël-museum.

In sy toespraak het hy passievol verduidelik hoe welwees en welvaart met volhoubaarheid hand-aan-hand gaan.

“As jy nie na jou wêreld omsien nie, gaan daar niks oorbly vir die volgende generasie nie,” het hy gesê.

Hy het daarop klem gelê dat die beginsels van volhoubaarheid nooit uit die oog verloor moet word nie, “want dit is van uiterste belang vir toekomstige geslagte se vermoë om in hulle lewensbehoeftes en -gehalte te kan voorsien”.

’n Besondere opwindende oomblik tydens die geleentheid was toe ’n Bybeltjie wat in 1880 onderteken is deur Eerwaarde Stegmann, eertydse sendingpredikant van Pniël (1843-1910), as geskenk deur ’n familie-lid, deur meneer Moss aan Pniël-museum oorhandig is.

Matthew Cyster, ook verbonde aan PEKT, het daarna ’n oorskou gegee van besighede en bedrywe in Pniël. Hy het die sakelui van Pniël bedank en verseker dat hulle die storie van die dorp vertel en versprei tot aan die uithoeke van die wêreld. Eerwaarde Klate het dit beaam.

Dorpenaars wat destyds by die Pniël-poskantoor diens verrig het, is ook vereer, waarna die nuwe kamer wat aan sakelui gewy is deur eerwaarde Klate en Dela Mayo, voormalige posmeester, oopgestel is. Die geleentheid is afgesluit in die museum se teetuin waar al die gaste gesellig verkeer het.

You need to be Logged In to leave a comment.