Pniël se oudste inwoner sterf

Deftig, ’n grapjas en ’n bobaas-gasvrou – dit is hoe Martha Scheepers se familie haar sal onthou.


Deftig, ’n grapjas en ’n bobaas-gasvrou – dit is hoe Martha Scheepers se familie haar sal onthou.

Scheepers was ten tye van haar dood Pniël se oudste inwoner. Gebore op 8 Oktober 1921 was “Tannie Martha”, soos sy alom bekend was, 102 jaar en sewe maande oud toe sy Maandag 13 Mei rustig gesterf het.

Hoewel sy en haar man, Albert “Boeta”, nie self enige kinders gehad het nie, was dit verlede week met hartseer dat haar familie afskeid geneem het van hul geliefde tante wat ’n belangrike rol in die familiekring en die breë gemeenskap gespeel het.

Die paartjie was al twee lief vir kinders en Scheepers het tot die laaste haar nog ontferm oor die familie-kinders wat gereeld by haar gekuier het.

Scheepers het destyds in Rhodes Fruit Farm se kantoor as huishoudster gewerk. Daar het sy blykbaar haar vaardighede vir gasheer wees aangeleer, want sy was bekend vir haar gebak asook haar gasvryheid.

Volgens haar familie kon enigeen hartlik kuier, eet en lag met Scheepers, maar kon jy ook jou probleme en hartseer met haar deel.

“Sy was ’n vrou met sterk en standvastige karaktereienskappe wat haar Christelike waardes en beginsels uitgeleef het. Haar huis het ’n oop deur vir die ouer en jonger generasie, en ook vriende en familie van heinde en verre, gehad,” vertel haar familie.

Die vierde oudste van sewe, was Scheepers ’n aktiewe sportvrou en het alles van netbal tot tennis gespeel. Lief vir swem en dans was sy ook.

“Sy het een van die eerste huise in Pniël op die bult gehad en moes op en af om by die res van die familie te kuier. Dit het seker ook bygedra tot haar lang jare. Sy het baie van haar vriende en haar portuurgroep oorleef,” vertel een van die niggies wat veral na aan Scheepers was.

Scheepers was dekades lank helder van denke en het eers onlangs bietjie deurmekaar geraak. Destyds kon sy egter staaltjies vertel uit vervloë dae en gaste ook op die regte pad help as jy sou durf om af te dwaal. Haar bekende woorde –“vrede en liefde” en ook “jy moet jou vader en moeder eer” – sal diegene wat haar ken sekerlik lank bybly.

Vir die familie was sy die laaste skakel tussen generasies en hulle vertel hulle voel verryk om van haar en haar generasie te kon leer.

“Sy het baie gedoen om die familie saam te snoer en met liefde bymekaar te hou. Haar versoek by elke Nuwejaarsdagparty was dat die familie altyd bymekaar gehou moes word.”

Oom Boeta was welbekend vir sy tuinmaak, ’n talent wat sy vrou gedeel het. Oom Boeta is reeds in 1993 oorlede.

Scheepers het haar versoeke vir haar begrafnis uiteengesit. Een van die hartseer-oomblikke was die oopmaak van die brief, in haar eie sterk handskrif, geadresseer aan Jeff Lackay, haar oudste susterskleinkind. Die brief het onder meer gelui dat daar, onder meer, die lied “Trust and Obey” in die kerk gesing moes word. Hierin spreek sy ook haar dank uit aan haar familie wat na haar gekyk het en ook haar vriende wat haar gereeld kom besoek het.

Die familie is baie dankbaar dat haar wens vervul kon word en dat sy tot op die laaste in haar eie huis kon wees en daaruit begrawe kon word. Hulle sê hulle eer haar nage­dag­tenis en voel geseënd om haar so lank te kon hê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.