Pniël se Villagers op wenpad in 7’s-rugby

Die tweede ronde van die Westelike Provinsie-rugbyunie se Score 7’s-rugbytoernooi skuif Saterdag (9 November) na City Park, nadat die eerste wedstryde die afgelope Saterdag in Brookside beslis is.


Die tweede ronde van die Westelike Provinsie-rugbyunie se Score 7’s-rugbytoernooi skuif Saterdag (9 November) na City Park, nadat die eerste wedstryde die afgelope Saterdag in Brookside beslis is.

Pniël Villagers se 7’s-span, onder die afrigting van Charles Stubbs en Hendrick Muller, is nog onoorwonne ná drie wedstryde. Hulle het in Groep B vir Collegians met 31-14, Whistling Wheels met 33-5 en Eersterivier met 7-0 geklop.

Saterdag pak Villagers een van die groot kanonne, Hamiltons, in sy eerste wedstryd, daarna vir Unimil en in die laaste wedstryd van die dag vir Drakenstein. Villagers sal op die suksesse van die afgelope naweek wil voortbou.

Kylemore, wat in Groep D meeding, het ook al drie sy wedstryde gewen. Die span word deur Ryan Solomons gebrei. Nes sy bure, glo Kylemore dat hy nieteenstaande sy seges sy beste nog sal opdis.

Altesame 35 spanne neem aan die 7’s-rugbytoernooi deel en is opgedeel in vyf groepe van sewe spanne elk.

Die spanne is opgedeel met Superliga A-spanne wat die topgekeurdes in elke groep is, daarna Superliga B, Superliga C en dan spanne uit die onderskeie streke.Die vyf groepe:

  • Groep A: Hamiltons, Kraaifontein, Hands & Heart, Young Peoples, Busy Bee, Titans en Peninsula.
  • Groep B: Unimil, NTK, Collegians, Pniël Villagers, Eersterivier, Whistling Wheels en Drakenstein.
  • Groep C: Villager, Kuilsrivier, Bellville, Atlantis, Gardens, Polisie en Silverleaf.
  • Groep D: Tygerberg, St George’s, Kylemore, Goodwood, Strand United, Elsiesrivier United en Fisantekraal.
  • Groep E: Valsbaai, Brackenfell, Strand, Macassar, Delft, Albions en Bishop Lavis.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.