Pniël vier jong sportsterre en rolmodelle

Pniël is maar ’n klein dorpie – net buite Stellenbosch in die rigting van Franschhoek – maar dis ook die geboortedorp van groot sportsterre soos die voormalige Protea-krieketspelers Henry Davids en Henry Williams.

Die spelers en die bestuur van Pniël Villagers-rugbyklub is, agter van links: Brandon Robyn, Trevor Adams, Godfrey Nicholls, Lisa Myburgh, Ruben November, Rozelda Mansfield, Elmarie Myburgh, Rowland Samuels, Chris Andrews en Ralton Williams. Voor sit Leo de Wet (Peregrine-streekspan), Caylle Mansfield (Luiperds), Winston Stubbs (voorsitter), Sherwin Cupido (Luiperds) en Francois Boonzaaier (OP).

Credit: SYSTEM

Pniël is maar ’n klein dorpie – net buite Stellenbosch in die rigting van Franschhoek – maar dis ook die geboortedorp van groot sportsterre soos die voormalige Protea-krieketspelers Henry Davids en Henry Williams.

Ongeag in watter sport inwoners presteer, deel die hele gemeenskap in die vreugde.

Pniël Villagers is die rugbyklub in die dorp, en net soos die gemeenskap die prestasies van Davids en Williams deur die jare gevier het, het die rugbyklub vier van sy spelers, wat op provinsiale vlak of internasionaal in ’n verteenwoordigende span speel, tydens ’n geselligheid vereer.

“Pniël Villagers is ’n gemeenskapsklub en veral die suksesse van ons jong sportsterre moet aan die groot klok gehang word.

“Ons het nog die tradisie hier in Pniël dat jou kind my kind is en dat jou kind se sukses ook die gemeenskap se sukses is,” sê Winston Stubbs, die klubvoorsitter.

“Tesame met die spelers se ouers het ons as gemeenskap ook ’n verantwoordelikheid om toe te sien dat elke sportster die hoogste sport in sy of haar sport bereik, al is dit net deur ’n woordjie van aanmoediging.”

Volgens Stubbs is die sportsterre rolmodelle en ’n aansporing vir ander jong spelers.

“Rolmodelle bied hoop, veral aan die jong spelers wat ook daarna streef om in hul voetspore te volg en ook suksesvol te wees. Die vier spelers wat ons vereer het, is Leo de Wet, wat in Desember as lid van die Peregrine-7’s-span in Doebai deelgeneem het, terwyl Sherwin Cupido en Caylle Mansfield vir die Luiperds en Francois Boonzaaier vir die OP gekies is,” sê Stubbs.

Ouers en die bestuur van die rugbyklub het die geselligheid Vrydag 5 Januarie by die klubhuis by die Pniël-sportterrein bygewoon.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.