Chaos het op Goeie Vrydag (18 April) in Idasvallei uitgebreek nadat die gemeenskap glo plaaslike polisiebeamptes uit die buurt verjaag het.
Die Stellenbosch-munisipaliteit se wetstoepassers en lede van die plaaslike polisie was glo in dié buurt, besig met patrollies, toe hulle ‘n man in Kreefgat voorkeer en hom deursoek.
Volgens die gemeenskap was beamptes hardhandig met dié inwoner. Dinge het na bewering uitgebrei toe hulle ‘n paartjie ‘n paar meter verder – in die veld naby Davystraat – genader en die man glo aangeval het.
Ooggetuies van Vrydag se gebeure het aan Eikestadnuus vertel dié paartjie sit elke week op die stuk gras agter hul woning en ontspan.
Verlede week het die twee glo weer daar gesit en ‘n bier gedrink toe beamptes glo op die man toegesak en hom begin slaan het. Toe sy vriendin probeer keer het, het sy glo ook ‘n hou in die proses gekry.

Jannie Willemse, wat op die dag naby gekuier het, beweer toe beamptes die paartjie “aangeval” het, was dit die laaste strooi vir die gemeenskap. Inwoners het glo begin om die beamptes met klippe te bestook in ‘n poging om hulle uit die buurt te kry.
Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, het by navraag gesê wetstoepassers was besig met ‘n optrede toe hulle ‘n man deursoek het. Dié man het gewelddadig begin raak en klippe na beamptes begin gooi, waarna hy gevlug en in die proses oor ‘n muur gespring het.
“Gemeenskapslede het saam begin klipgooi, wat beamptes en die Rooi-miere aangespoor het om nie-dodelike ammunisie in selfverdediging te gebruik.
“Die span het onder leiding van kapt. Sinyeke van die Cloetesville-polisie teruggetrek. Die vyandige skare het dit vir die beamptes – veral die Rooimiere – moeilik gemaak om hul voertuie te bereik. Een Rooimiere-lid is beseer toe ‘n klip sy helm getref het, maar geen ander personeel of voertuie is beskadig nie,” sê Grobbelaar.
AO. Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig niemand is tydens die operasie in hegtenis geneem nie, maar beamptes het steeds lasbriewe uitgevoer.
Video’s en foto’s van Vrydag se gebeure is wyd op sosiale media versprei, met talle plaaslike inwoners wat die beamptes vir hul optrede kritiseer het.
Op die video’s kan gesien word hoe gewapende beamptes in Bloekomstraat agteruit loop terwyl gemeenskapslede klippe na hulle gooi.
Magmoed Kara, ‘n Idasvallei-inwoner, sê die afgelope naweek se gebeure is bewys dat die gemeenskap moeg is van die behandeling wat hulle van die wetstoepassers en polisie ontvang. Hy meen die Cloetesville-polisie moet vir hul optrede antwoord.
Vrydagaand was die polisie glo terug in die buurt, op soek na diegene wat beamptes met klippe gegooi het.
Saterdagmiddag was Anthony Henry besig om Bradley Smith se hek reg te maak nadat die polisie glo die vorige aand op soek na die klipgooiers by Smith se woning ingestorm het.
Smith, soos talle inwoners, meen die manier wat beamptes met die gemeenskap omgaan, moet hersien word.
“Hulle het hier geraas en gesê hulle soek almal wat die middag klippe gegooi het,” sê Smith.
“Ek was nog besig om uit te kom met die heksleutels in my hand toe hulle die hek afbreek. Ons het verduidelik ons het nie klippe gegooi nie, maar hulle het aanhou raas.”
‘n Saak van openbare geweld by die Cloetesville-polisie ná afloop van Vrydag geopen.

You must be logged in to post a comment.