Tekortkomings en gebreke in polisiëring in die groter Stellenbosch-gebied is verlede Woensdag (16 Augustus) in die soeklig geplaas toe die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en Reagen Allen, die LUR vir gemeenskapsveiligheid en polisietoesig, hier besoek afgelê het.
Die besoek het deel gevorm van die provinsiale regering se veiligheidsplan, wat mik om misdaad in die Wes-Kaap teen 2029 met 50% te verminder. Winde en Allen het by dié geleentheid aan verskeie veiligheidsinisiatiewe, asook toesig-besoeke aan die Stellenbosch-, Khayamandi- en Cloetesville-polisiekantore afgelê.
Dis tydens dié besoeke waar die uitdagings, wat die polisielede daagliks ervaar, bespreek is, met veral terugvoering oor die stand van werk aan die Khayamandi-polisiekantoor wat onlangs tydens die minibustaxi-staking in ’n brand beskadig is.
“Dit ontstel my dat die mense wat verantwoordelik is vir die beveiliging van gemeenskappe en hul persoonlike veiligheid op die spel plaas so blatant aangeval word,” het Winde aan ’n afvaardiging van polisielede en Stellenbosch- munisipale amptenare gesê.
Allen sê die feit dat opknappings- en herstelwerk aan die gebou ná die brand reeds begin het en binnekort voltooi sal word, is bemoedigend.
“Ek wil hê diegene wat die kritieke infrastruktuur beskadig het, in hegtenis geneem en skuldig bevind moet word,” het hy gesê.
“Om infrastruktuur, veral staatseiendom, te beskadig is nie hoe griewe uitgespreek moet word nie.”
Tydens die owerhede se besoek aan Cloetesville-polisiekantoor het die gemeenskap gebuk gegaan onder beurtkrag. Volgens Allen was dit ’n herinnering aan die energiekrisis se impak op noodsaaklike dienste.
“Die polisiekantoor in Cloetesville het geen elektrisiteit tydens ons besoek gehad nie. Tog is dit een van die gemeenskappe wat die polisiedienste die meeste nodig het, maar nie genoegsaam in beurtkrag gehelp word nie,” het hy gesê.
“Dit is die stasie met die swakste polisie-tot-bevolking ratio in die provinsie – tans 1:1 242. Dit is totaal onaanvaarbaar. Dis net nog ’n herinnering waarom die afwenteling van polisiëringsmagte aan ’n bekwame provinsiale regering soos ons s’n, dringend nodig is. Die polisie moet onder ons bestuur geplaas word. Ons toegewyde manne en vroue in blou, sowel as die gemeenskappe wat hulle bedien, verdien soveel beter.”
Winde het saamgestem en gesê, afgesien van die uitdagings, is hy baie beïndruk met die toewyding van die polisiebeamptes.
“By Stellenbosch-polisiekantoor is ons meegedeel dat daar genoeg voertuie is, maar nie genoeg personeel nie. Dit is ongelukkig die realiteit by die meeste polisiekantore in die provinsie,” het hy gesê.
“Ons is daarvan oortuig dat as die Wes-Kaapse regering die geleentheid kry om die bestuur van die polisiediens in die provinsie oor te neem, sal daar ’n ommeswaai en verbetering wees.”
Winde en Allen het ook by ’n padblokkade met motoriste gesels voordat hulle in Cloetesville op patrollie gegaan het met lede van buurtwagte, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, polisielede, wetstoepassers en private sekuriteitswerkers.
“My opregte dank gaan uit aan elke vrywilliger en lid van ons wetstoepassings-familie wat hard werk om ons te help om Stellenbosch – en so ook, die hele Wes-Kaap – veiliger vir almal te maak. Hul pogings gaan nie ongesiens verby nie,” het Allen gesê.