Stellenbosch en Idasvallei Primêr spog met die Suid-Afrikaanse o.12- 100 m-naelloopkampioen nadat Liam Poole, ’n gr. 6-leerder by dié skool, die SA Skole-kampioenskap in Pietermaritzburg verlede week gewen het.
Poole het op Dinsdag 20 Maart die seuns o.12- 100 m-naelloopeindronde in 00:12:39 gewen en so ook sy persoonlike rekord van 00:12:40 verbeter.
Idasvallei Primêr se skoolhoof, Anton Gordon, het Poole se reis na die SA Kampioenskap as merkwaardig en uitmuntend beskryf en gesê die skoolgemeenskap, sy ouers en Stellenbosch is trots op hom.
“Ons seënwense vergesel Liam Poole vir ’n baie blink toekoms.”
Poole het op 7 Februarie aan die jaarlikse interskole-atletiekbyeenkoms deelgeneem waar hy die eerste plek in die 100 m-naelloop behaal het.
Ná sy oorwinning het hy op 18 Februarie aan die Sentraal Boland-kampioenskap in die Paarl deelgeneem, waar hy weer eerste was.
Op 4 Maart het hy aan die Boland Laerskool-kampioenskap deelgeneem en weer die eerste plek behaal en die Boland-rekord (en sy persoonlike rekord) vir 100 m-naellope vir seuns o.12 in 12:40 opgestel.
Daarna het hy deurgedring na die Wes-Kaap Laerskool-kampioenskap wat op 11 Maart plaasgevind het.
Poole het by die Wes-Kaapse byeenkoms derde plek behaal en is opgeneem in die Wes-Kaap-atletiekspan, wat aan die Sasa Laerskool-kampioenskap in Pietermaritzburg gaan deelneem het.
Hy het sy uitdunronde op Maandag 20 Maart in 00:12:40 gewen.
Hy het die volgende dag aan die eindstryd deelgeneem en geskiedenis gemaak deur sy eie persoonlike rekordtyd van 00:12:40 na 00:12:39 te verbeter en is ook as die nasionale kampioen aangewys.