Haar liefde vir kinders en drama het haar genoop om ’n poppekas te begin en só terug te gee aan die projek waarby sy as kind daagliks betrokke was.
Die poppekas-meester Mariana Julius vertel sy het as kind op die Villiera Wines-plaas net buite Stellenbosch daaglikse programme by die Pebbles Project bygewoon, wat haar gehelp en later geleenthede gebied het om verder te gaan studeer.
Deesdae is sy ’n leesassistent by die Pebbles Project.
“Ek was bevoorreg om my diploma in drama met die hulp van Villiera Wines en Pebbles Project te verwerf. Ons het elke Vrydag dramaklasse by die nasorg gehad, wat die passie vir lees en drama by my gekweek het. Daarom is dit vir my belangrik om ook terug te gee deur my kwalifikasies en vaardighede te gebruik om kinders te inspireer,” sê Julius.
Sy het ook bykomende poppekas-kursusse gedoen om kinders deur middel daarvan op te voed.
“Ons gebruik verskillende temas, soos seisoene, padveiligheid, gesondheid en so meer, wat ons met die poppekas demonstreer. Dit is veral gewild onder die jonger kinders, want hulle kan hulle met die karakters vereenselwig. En dis lekker om te sien hoe hulle leer terwyl hulle speel,” vertel Julius verder.
Sy het die poppekas begin omdat hulle nie ’n poppekas-teater gehad het toe sy grootgeword het nie “en omdat dit lekker is”.
“Dit is vir my lekker om die stories uit te dink en te skryf. Dit is nog ’n uitdaging omdat ek dit alleen doen, en met die karakterverandering is dit ’n bietjie moeilik, maar dis baie lekker, veral wanneer ek sien hoe opgewonde die kinders is. Hul gunstelingkarakter is Samantha (’n sesjarige meisietjie) en haar broer Lebo (’n negejarige seuntjie). Die kinders hou ook daarvan as hulle met die poppe kan speel.”
Thelma du Plooy, die geldinsamelingsbestuurder by Pebbles Project, sê Julius se poppekas is ’n hoogtepunt onder kinders en dat hulle wesenlike veranderinge in die kinders se gedrag kan sien.
“Haar entoesiasme is aantreklik en dit laat die kinders in ’n ander dimensie blootstelling kry. Dis nie net ’n tekening nie, maar die interaksie wat hulle kan hê. Dit is vir hulle tasbaar en dit het ’n dieper waarde tot ons programme gevoeg.”
Julius sê sy sal graag verder wil studeer en haar op kinderteater en poppekas toespits.




