Die plaaslike bekroonde kunstenaar Jan Hendrik Viljoen, ook bekend as “Portchie”, word vanjaar 60 en om hierdie mylpaal te vier beplan hy die grootste kunsuitstalling in die Stellenbosch-stadsaal nog.
Die uitstalling vind van 19 tot 23 November plaas.
“Die uitstalling is ter viering van my lewe van sestig jaar, maar die belangrikste vir my is om dankie te sê vir my dorp waar ek al meer as dertig jaar woon, dat hulle my verdra en die geleentheid gee om myself te wees en my kuns met die wêreld te deel. Mense vlieg in van oor die wêreld heen om die uitstalling by te woon en ek glo dit sal ’n reuse- finansiële inspuiting wees, want al hierdie mense besoek restaurante en bly in hotelle op die dorp,” sê Portchie.
Die uitstalling is getitel Portchie: Van Tweeling tot Trafalgar Square.
“Ek het grootgeword in die dorpie Tweeling in die Vrystaat en my grootste sukses as kunstenaar nog was toe ek op Trafalgar Square in Londen reuse- internasionale solo-uitstallings gehou het. Daarom was dit gepas om dit te gebruik as titel van my sestigste verjaardag-uitstalling, maar ook vir my memoire wat terselfdertyd deur NB Uitgewers gepubliseer word.”
Hy sê hy gaan die stadsaal aan die binnekant soos iets reg uit ’n Portchie-skildery herbou.
“Daar gaan reuse- blou bome wees, eie aan my, met reuse- daisies (madeliefies) wat op en af beweeg. Daar gaan 200 skilderye wees wat bestaan uit ou werke, nuwe werke en eksperimentele werke, asook meer as 200 beelde wat tot drie meter hoog is. In skaal sal dit die grootste uitstalling wees wat ek aanpak, veel groter as my Londen-uitstallings,” voeg hy by.
Portchie verwag sowat 1 000 BBP-gaste van oor die wêreld heen om die opening by te woon en poog om 10 000 mense te lok om die uitstalling deur die verloop van die week by te woon.
“Projekte waaroor ek die meeste opgewonde is, is dat 500 gr. 1-leerders van Idasvallei Primêr, Laerskool Stellenbosch, Laerskool Eikestad, Laerskool Cloetesville en Rhenish Primary van my skilderye gaan oorteken en die geleentheid het om saam met my uit te stal. Dis vir my ’n ongelooflike voorreg om hierdie jong talent te sien en te beleef. Hulle herinner my elke dag dat ek ook eens op die skoolbanke gesit het en my prentjies teen die mure opgeplak het.”
’n Ander projek waaroor Portchie baie opgewonde is, is die markdag wat hy saam met Huis Horison en Geluksoord as deel van sy uitstalling op Sondag 19 November gaan aanpak.
“Dis twee lieflike welsynsorganisasies wat baie na aan my hart lê. Ek het ’n groot hart vir verstandelik gestremdes en bejaardes en voel dis twee organisasies wat meer vereer kan word vir die wonderlike werk wat hulle vir ons gemeenskap doen.”
. Kaartjies vir die uitstalling is teen R50 elk by Quicket beskikbaar. Die toegangsgeld sal tussen Huis Horison en Geluksoord verdeel word.


