Die Hoofposkantoor van Stellenbosch wat meer as 80 jaar op die hoek van Bird- en Pleinstraat geleë was, is steeds adresloos.
In 2018 het die nuus van die poskantoor se sluiting talle inwoners wat van hierdie tak gebruik gemaak het, geskok gelaat.
Eikestadnuus het in 2018 berig dat die verskuiwing van die tak gekom het toe die nuwe eienaar van die gebou nie die kontrak met die SA Posdienste wou hernu nie.
Die posdienste sou volgens sy voormalige woordvoerder Martie Gilchrist binne maande na ’n nuwe perseel skuif. Maande het nou egter meer as drie jaar later geword en inwoners is steeds in die duister daaroor.
Dr. Louise Combrink, ’n inwoner van Azaleahof ACVV-tehuis in Stellenbosch, het haar bekommernis oor die situasie gedeel en meen dit raak almal in die dorp.
“Die hoofposkantoor se verdwyning is ’n besonder negatiewe gebeurtenis en het ongelooflik baie probleme vir baie mense veroorsaak. Talle mense het daar ’n posbus gehad vir jare,” vertel Combrink.
Sowat 972 van die 1 000 posbusse van hierdie tak was in gebruik voordat die poskantoor heeltemal toegemaak het.
Dus het Gilchrist ook op daardie tydstip aan Eikestadnuus bevestig dat hulle op soek is na ’n perseel met ’n groot genoeg ruimte om in al die inwoners se posbehoeftes te voorsien.
Combrink meen dat die gebrek aan ’n posbus een van die gemeenskap se grootste uitdagings tot op hede is. “Daardie posbusnommers word op belangrike dokumente gebruik. Baie van ons kon nie ’n ander posbus in Stellenbosch kry nie, want daar was nie genoeg beskikbaar nie,” sê Combrink.
Volgens haar het sy al heelwat pos verloor en ontvang sy steeds geen pos sedert die hoofposkantoor se sluiting nie.
Intussen het Matieland-poskantoor bevestig dat inwoners van die middedorp se pos daar is en dat inwoners dit daar kan kom afhaal.
“Die mense se pos lê hier, hulle kan dit net kom afhaal,” het Thandi Gquma vroeër vandeesweek gesê. Sy wou egter geen kommentaar lewer oor die sluiting van die hoofposkantoor nie.
Die gebou wat nou bekend staan as die Oude Poskantoor het reeds verskeie veranderings ondergaan sedert die poskantoor die perseel verlaat het. Volgens die ontwikkelaars is alle nodige prosesse gevolg om die erfenis van die gebou te behou en te bewaar.
Die nuut-aangeboude boonste verdiepings sal binnekort as kantoorruimte uitverhuur word. Daarmee saam sal die ruimte wat voorheen die poskantoor gehuisves het nou ’n nuwe restaurant, Post and Pepper, huisves.
Die Suid-Afrikaanse Posdienste het teen druktyd nog nie op Eikestadnuus se navraag oor die plaaslike Hoofposkantoor gereageer nie.