Mense moet praat en geslagsgeweld aanmeld as hulle dit sien en betrokke raak by organisasies om die stryd teen hierdie misdaad te wen.
Dit is die boodskap van organisasies en vroue op die voorgrond van die stryd teen geslagsgeweld in Stellenbosch.
Léanne Kumalo, ’n maatskaplike werker by Stellsorg, sê dit is belangrik vir mense om oor die geweld te praat.
“Ons by Stellsorg moedig mense aan om by ons te kom aanklop. Ons het programme vir slagoffers sowel as oortreders, want albei het hulp nodig.”
Kumalo sê hul grootste program vind Vrydag 16 Desember plaas wanneer hulle ’n optog deur Cloetesville gaan hou om te betoog “genoeg is genoeg.”
Kapt. Nathalie Martin en AO Zenobia Sedeman, van onderskeidelik die Stellenbosch- en Cloetesville-polisie, sê die polisie doen deurlopend programme en intervensies om die publiek oor geslagsgeweld op te voed en dat hulle nie net vir 16 dae van die jaar daarop op fokus nie, maar vir 365 dae.
“Slagoffers van geslagsgeweld moet na vore kom en moenie bang wees om klagtes teen oortreders aan te meld nie. Baie van die slagoffers is te bang of te skaam om ’n klagte aan te meld,” sê Sedeman.
“Ek doen ’n beroep op elke vrou in die gemeenskap om vir mekaar op te staan. Wees die slagoffer se stem en staan saam. Moenie ’n vrou se noodkreet ignoreer nie. Jy kan haar haar lewe kos of jy kan haar red deur haar stem te wees. Geslagsgeweld het nie ’n dag, datum en tyd daaraan gekoppel nie. Dit gebeur elke sekonde van elke dag. Ons gaan saam met slagoffers hof toe sodat hulle nie alleen voel nie,” voeg Stephenie Heneke, ’n gemeenskapswerker, by.
Die voorsitter van die Stellenbosch-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Magdalene Blankenberg, sê die organisasie is nou betrokke in die gemeenskap om steun aan slagoffers te bied. “Ons gemeenskap moet besef hierdie geweld gee nie om wat jou geloof, klas, geslag of kultuur is nie. Dit raak ons almal. Daarom moet ons saamstaan en saam teen die euwel veg.”
By die bekendstelling van die munisipaliteit se veldtog van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders in Klapmuts verlede Donderdag (24 November) het die burgemeester, Gesie van Deventer, vroue aangemoedig om in ooreenstemming met die nasionale tema vir vanjaar se veldtog saam te werk.
“Vir so lank as wat mense kan wegkom met die aanranding, verkragting en mishandeling van vroue en kinders, sal ons jaar in en jaar uit dieselfde gesprekke voer. Geen vrou of kind mag ooit onveilig voel nie. Ons almal moet opstaan ??teen die mishandeling van vroue en kinders en praat wanneer ons dit sien. Ons kan nooit stil of selfvoldaan raak nie. Ons moet nooit die normalisering van verkragting, mishandeling en moord aanvaar nie,” sê Van Deventer.
Die geleentheid het met die oorhandiging van titelaktes saamgeval.
Die drie oudste begunstigdes was – heel gepas – drie vroue.
“Hierdie aktes sal aan hulle sekuriteit verskaf, is ’n bate om aan hul kinders agter te laat en dien as paspoorte vir ekonomiese deelname.”