Die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement, met die ondersteuning van die ATKV en NATi, bied weer hierdie jaar ’n teaterfees, “Première”, vir nuwe en opkomende kunstenaars aan.
Hierdie fees het in 2018 begin, en nadat dit in 2020 onderbreek en in 2021 aanlyn aangebied is, is die fees weer gereed om gehore in die teater te verwelkom.
Première
is ’n opwindende teaterfees eie aan Stellenbosch, waar oorspronklike produksies deur jong, vernuwende teatermakers van die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement ontwikkel en opgevoer word.
Meer as 60 studente, wat onderskeidelik as regisseurs, skrywers, ontwerpers, verhoogbestuurders en akteurs optree, is vanjaar by “Première” betrokke.
Altesaam 25 produksievoorstelle is in Maart aan ’n paneel teaterkundiges voorgelê.
Twaalf van hierdie voorstelle is uiteindelik gekeur om aan die fees deel te neem.
Hierdie 12 produksies verteenwoordig ’n breë spektrum style, tale, onderwerpe en temas.
Van 19 tot 22 Julie word elke aand drie produksies in die Lab-teater by die Adam Small-teaterkompleks in Stellenbosch opgevoer, waarna ’n paneel bekwame beoordelaars repliek sal lewer.
Die beoordelaars vir 2022 is Saartjie Botha (hoof van die Toyota US Woordfees), Cornelia Faasen (uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief, NATi) en prof. Petrus du Preez (voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement).
Saterdag 23 Julie word die drie beste produksies teruggenooi om by die “Première Curtain Call” te speel. Na afloop van die aand sal verskeie pryse oorhandig word en die wenproduksie van die fees sal aangekondig word.
Die pryse sluit in:
. Beste regisseur,. beste Speler (manlik en vroulik),. beste speler in ’n ondersteunende rol (manlik en vroulik),. beste nuwe teks,. beste ensemble,. beste algehele tegniese versorging en ontwerp,. beste verhoogbestuur en . beste algehele tegniese prestasie.
Elke individuele wenner ontvang R2 000. Die wenproduksie ontvang ’n geldprys van R20 000. Hierdie produksie kry ook ’n speelvak by die 2022-’23- Toyota Woordfees.
Verder ontvang die beste akteur, beste aktrise en die volledige geselskap van die wenproduksie persoonlike portretfotografie van die bekende fotograaf en teaterliefhebber Nardus Engelbrecht vir hul professionele portefeuljes.
Die organiseerders van die fees, dr. André Gerber en Elana-Marié Snyman, beskryf “Première” as ’n viering van die jong, energieke teatertalent van Stellenbosch. “ ’n Enorme deel van die professionele bedryf kom uit die Stellenbosch Universiteit se dramadepartement. Daar is nog altyd ’n skeppingsgees onder die studente,” sê sy.
“Ons poog om hierdie jong talent aan Stellenbosch bekend te stel.”
Teen slegs R50 per produksie, kan gehore deur dié jong teatermakers se unieke en uiteenlopende produksies vermaak en uitgedaag word. Gehore is ook welkom om ná die drie produksies na die beoordelaars se terugvoer te luister.
Kaartjies kan aanlyn gekoop word by www.premierefees.co.za.
Datums
. “Première” – drie produksies per aand: 19 tot 22 Julie om 18:00, 19:00, en 20:00. . “Première Curtain Call” – die beste drie produksies van die week: 23 Julie om 18:00.
Produksielys
Dinsdag 19 Julie
. Begrafnis op Beaufort-Wes; 18:00. vier ore, vier bene, vier oë; 19:00. Jantjies and the Pearls!; 20:00
Woensdag, 20 Julie
. On Display;18:00. Rakel en Klara versus die Wêreld; 19:00. Stroop; 20:00
Donderdag 21 Julie
. A Cat and a Brush with Destiny; 18:00. Bopha!; 19:00. Wannabe Keisers; 20:00
Vrydag 22 Julie
. Afval; 18:00. ’n Gek vir jou; 19:00. Double Strike; 20:00
Alle inligting rakende die produksies is beskikbaar op die webblad premierefees.co.za.
Die fees is ook op Instagram te sien by @premierefees.
Alle feesinligting word ook híér gedeel.